Brokkies

11 tot 14 Februarie 2019: Wendy kuier by skole in Gauteng en Noordwes

Die Hoëveld trek haar mooiste somerrok vir hierdie Kapenaar aan! Dit stortreën vandat ek my voete op Oliver Tambo sit totdat ek weer in Bloubergstrand se koue water staan. Ek vergeet skoon van my kosbare ry blikgieters wat immer paraat staan om rose te lawe.

Soggens vroeg val ek saam met Karen Janse van Rensburg, Lapa se streeksverteenwoordiger, in die pad. Elke dag kuier ons by ‘n ander deel van haar uitgebreide boekfamilie wat leerders, onderwysers, ouers en agente insluit.

Party skole is in ou buurte versteek. Om by ander uit te kom, moet ons modderige plaaspaaie en dongas aandurf. Die eindbestemming is altyd ‘n verrassing. Die liefde en omgee en uitbundige vreugde oor boeke en stories is ‘n geskenk wat ek nog lank sal koester.

Laerskole Dirk Postma, Totiusdal, Queenswood, Die Krans, Du Preez van Wyk, Balmoral, Rayton, Bromberg Akademie en Tygervalley College – ek dra jul sonneblomspore in my hart.

En die mooie Dazzling Dawn-roos!