Brokkies

11 September 2020

Dag 15: Ek vleg ‘n krans vir Silos. Vir sy berge, die abdy en goudgeel maan.

Drie dae lank bêre ons die stapstokke en rugsakke en word deel van die klein dorpie en sy mense. Bedags verken ons die omgewing en geniet die tradisionele kos, Spaanse wyn, kaas en heuning uit die omgewing.

Een oggend terwyl ek ‘n bietjie later slaap, woon B. die eerste dreunsangsessie van die dag by. Dis net hy en ‘n jong man uit die dorp wat die koue aangedurf het. Hulle word elk ‘n Latynse teks in die hand gegee en genooi om saam met die monnike te sing.

Die res van die dag “Al-le-lu-ia” en “Glo-ria in Ex-cel-cis Deo” hy met ‘n salige uitdrukking op sy gesig.

Laatmiddag op die derde dag in Silos gaan ons na die winkletjie op die plein. Ons koop aspersies, olywe, ‘n platbrood en jongwyn vir ‘n piekniek teen my gunsteling-heuwel met die klipkruise en akkerboom.

Ek merk die kruie op wat in netjiese porseleinskottels uitgestal is en koop ‘n paar skeppies origanum om saam te neem huis toe. Die vaalgroen blare ruik na son. Dit word met sorg in ‘n bruin kardoessakkie toegevou. Die ou vroutjie agter die toonbank is vol grappe en gee my ‘n handvol amandelkoekies as nagereg present.

Die hele Spanje deur maak mense soos sy hul harte oop vir ons peregrino’s.

In ‘n klein dorpie keer ‘n oumatjie ons voor met ‘n ronde kaas uit haar eie melkery.

Buite Astorga roep nog ‘n ou tante ons oor die kombuis se onderdeur nader. In haar knobbelhande hou sy warm pannekoeke in ‘n doek toegedraai na ons toe uit.

Sy is van kop tot tone in swart geklee en met haar houtvurk op pad na die landerye om aartappels uit te haal. B. neem ‘n foto van ons twee. Die klein figuurtjie pas los onder my arm in.

Ons geniet die aspersies, olywe, brood, wyn en amandelkoekies onder die groot akkerboom teen “my” heuwel agter die klooster.

Ek pluk geel veldblommetjies wat op lang stele in die briesie wieg. Grassade met lang, sagte koppe en eenvoudige pers klokkies waarvan ek die naam nie ken nie. En teen die klipmuur by die fontein die jong lote van ‘n klimop.

Ek vleg ‘n krans vir Silos. Vir sy berge, die abdy en goudgeel maan. En vir sy monnike wat soos krygers van ouds dag ná dag hul dreunsang as swaard teen die besige wêreld daarbuite opneem.

Ek staan saggies op en stap tydsaam, soos iemand wat nie wil hê dat die dag moet verbygaan nie, na die kerk. Voor die groot deur besef ek teleurgesteld dit is gesluit. Ek wou so graag my krans aan Silos offer. My gedagtes in die groot stil koepels opstuur en ‘n kers brand vir die orige kilometers wat ons nog moet aflê.

Terwyl ek besluiteloos staan en wonder wat my te doen staan, knars ‘n sleutel in die slot. ‘n Monnik maak oop en nooi my in. Ek beduie na die krans en probeer verduidelik dat ek kom dankie sê.

 

Hy staan terug en wys na die altaar. Ek stap tot teen die trappies, sit dit op die boonste een neer en gaan sit in een van die banke.

Aan die monnik dink ek nie weer nie. Dié het stil-stil verdwyn.

Met die groot gebou vir myself draai ek die drie goue dae om en om in my gedagtes.

Meteens dawer die mooiste orrelklanke tussen die houtbanke deur. Die diep basnote dreun deur die klipvloer onder my voetsole. Dit kolk in die paadjies af, stort oor die galerye en spoel teen die trappe voor die altaar vas. Ek sien hoe my krans op die skuimrand dans, gaan op my knieë en hou die bank voor my met albei hande vas. Die hout vibreer onder my vingerpunte. 

*Hierdie plasing het in Sarie verskyn.

** Wendy se Camino-dagboek kan ook op haar fb-skrywersblad gevolg word: www.facebook.com/WendyMaartensSkrywersblad