Brokkies

13 Julie 2020

Stapdag 8: Legroῆo na Navarette (12,4 km)

Vandag is ‘n ongemaklike dag. Eers moet ons ons weg uit die besige stad vind. Al is die pad duidelik gemerk, sukkel ‘n mens om die Camino-merkers tussen al die naam- en advertensieborde raak te sien. Dit kos fyntrap so al op die rand van die pad met die verkeer wat immer van die ‘verkeerde’ kant kom.

Dis ook nog nie tweede natuur om eers na die ‘verkeerde’ te kant te kyk voordat ek ‘n pad oorsteek nie. ‘n Paar noue ontkomings, ook van ander peregrino’s, laat my besef hoe weerloos ‘n mens eintlik is.

Nie net in die wind en weer nie, maar ook as ‘n paar van ons soos ‘n ruspe op die skouer van ‘n pad aankruie met groot vragmotors wat digby ‘n mens verbysnel.

Met 10 kilogram op my rug, is daar nie van vlugvoetigheid sprake nie. En land jy op jou rug, bly jy soos ‘n skilpad lê!  

Ek onthou Pa het altyd ‘n silwer Saint Christopher-hangertjie gedra. Eers later het ek besef hy is die beskermheilige van reisigers. Op hierdie staptog kry dit vir my nuwe betekenis.

Die volgende baken is die Cepsa-Elf-vulstasie met die industriële gebied daarna. Plantano de la Grajera se dennebos en groot dam drie kilometer verder vergoed vir alles toe ons op ‘n draadheining met honderde kruisies afkom.

Pelgrims het die saagmeul langs die roete se stukkies weggooihout ingespan. Elke kruisie oor ‘n afstand van maklik 500 meter is ‘n stil getuienis van iemand se drome en gebede –  genoeg om ‘n ruk stil te staan en self ‘n kruisie by te voeg.

Die res van die dag word daar heen en weer oor groot paaie gestap en ook ente langs die besige N-120 en N-232.

Die dag eindig beter as wat dit begin het met pizza en ‘n glas La Rioja-huiswyn. Daarna help Nájera se flink apteker om ‘n plan met my knie te maak.

Sy ultra-moderne onderneming herinner aan ‘n futuristiese rolprent. Solank jy nie oor die drumpel na buite tree en die baie ou gebou in die nog ouer dorpie sien nie. 

Ek lei af dat die meeste pelgrims op hierdie tydstip van die tog ‘n apteek nodig het. En waarom dan nie sorg vir ‘n ordentlike een nie? (My oupa was ‘n travelling salesman.)😉

Ek, wat op die grammatika konsentreer, snap net elke 5e woord van die Spaanse inligtingsessie. B. wat op liggaamstaal en die praktiese kant konsentreer, snap die res. Tussen die twee van ons kan ons min of meer uitwerk hoe die anti-inflammatoriese tablette en jel gebruik moet word.

Daarna gaan ons na die kerk – groot en oud en donker en lekker koel.

Ons gaan sit in die voorste bank.

Here, God, ek is in U hande.

Wys my hierdie onverstaanbare pad wat ’n mens “lewe” noem.

 

Dag 9: Navarette tot Nájera (17 km)

Gisteraand se verblyf en vanoggend se ontbyt is gratis. Dis deel van die twee vroue wat die refugio bedryf se liefdestaak.

Hulle bedien ons soos die Martha van ouds – met hul eie humor. (Een het ‘n oorbel aan wat soos ‘n robot flikker om die vaak pelgrims op te beur. Die ander het ‘n vals heksevinger met ‘n lang nael aan.)

Langs die tafel waar ek gisteraand ingeteken het, is ‘n prent van Maria en Jesus met ‘n rooi kerkkers daarby. Die res van die vertrek dien as eetkamer en kombuis.

Ek het die Fransman, wat 45 km op ‘n dag stap, gevra om ons wakker te maak wanneer hy vertrek.

Dit was nog donker toe ons vanoggend begin stap.

Ek het die afgelope paar dae die eerste keer weer die Jesus Prayer begin bid. Die deel “mercy, mercy, mercy” is vandag my mantra saam met die egalige ritme van my twee stapstokke.

Dis bewolk tot in Nájera.

Die mense by die volgende refugio is net sulke engele. Gratis verblyf, gratis ontbyt en paella-middagete, want dit is die feesdag van die heilige San Juan. Die kinders is nie skool toe nie. Al die inwoners het hul nekdoekies aan met die dorp se wapen op.

Soos in die dae van ouds moet ek my skoene en stapstokke by die ingang los. Ek gaan sit soos altyd op my bed en pak my goed uit.

Dalk wil-wil die Krynauws se Oos-Pruisiese wortels hier deurslaan. As ‘n peregrino se paar besittings so netjies op sy bed georden is, kan jy maar weet die kans dat hy/sy ‘n Duitser is, is baie goed.

So het elke nasionaliteit een of ander aardigheid. Of só bespiegel ons peregrino’s onder mekaar terwyl ons stap en mekaar se eienaardighede bekyk en beluister en soms letterlik soos ‘n nat stortgordyn aan jou lyf voel. (En as daar by die volgende badkamer glad nie ‘n stortgordyn is nie, wens jy daardie grillerige, nat stortgordyn was daar!)

Die Kanadese en Brasiliane is die gemoedelikste. Die Franse kan baie kwaai wees. En loop jy ‘n vergadering by ‘n kruispad raak, dan kan jy jou kop maar solank op ‘n blok sit dis Duitsers wat kajuitraad hou oor watter koers om in te slaan.

Die Italianers zirts stylvol op hul fietse verby. Die Hollanders noem ‘n ding op sy naam en die Oos-Europeërs is so lekker sonder fieterjasies dat ek soms in ‘n onbewaakte oomblik met hulle Afrikaans wil praat. 

En net sodra jy dink jy weet hoe die wind waai, keer ‘n vriendelike Fransman en ‘n boosaardige Brasiliaan jou vooropgestelde idees op sy kop.     

Die slaapsaal lyk asof dit eens op ‘n tyd ‘n belangrike vertrek kon wees waar dorpsvergaderings en danse gehou is. Ek kyk deur die groot dubbeldeure hoe die buurman in sy groentetuin werskaf. Pimento’s, pampoene, uie en reuse-tamaties. Emmersvol okkerneute word gepluk.

(Vreemd hoe ‘n mens terwyl jy boemel soms in ‘n onbewaakte oomblik na die vastigheid van “huis” verlang terwyl jy diep in jou hart terselfdertyd die nuutgevonde vry-wees-van-huis-en-haard koester.)

Later die middag sou die tuinier vir ons druiwe aanbied uit sy lappie wingerd terwyl hy plastieksakke ophang om die voëls te verjaag.

Terwyl die enorme pan paella (4 mans moet dit optel) gaar word, verken ons die dorpie. Almal is in ‘n feestelike bui.  

B. is in sy skik. ‘n Winkeleienaar het die plakaat wat vanaand se stiergeveg adverteer afgestaan.

Hy beplan om vanaand te gaan kyk. Ek is bly vir sy part, maar wil dit eerder nie sien nie. ‘n Wrede en onregverdige tradisie!

Half-drie sit ons handjievol peregrino’s (wat meer na ‘n klomp lieplappers lyk) agter die refugio aan vir paella met aspersies, garnale, calamari, mossels en allerhande ander seekossoorte wat ons Suid-Afrikaners nie ken nie. Ook die mooiste rooi krewel-gediertetjies. Wyn by die kanne en lang, groen spanspekke wat soos waatlemoen lyk.

Ek kry ‘n knop in my keel om te sien hoe vreemdelinge dit as ‘n selfopgelegde taak beskou om ons klompie soos eregaste te behandel.

Daar is lang houttafels in die smal agterplaas gedek. Die bekende rooi kranse van Nájera is agter my rug. So naby dat ek aan hulle kan vat.

‘n Ware fees!

Die res van die middag is my eie terwyl B. die stiergeveg gaan kyk. Ek knip ‘n uiltjie en gaan stap in die ou kerk rond. Vertoef by tombes met die oorskot van mense wat in 902 dood is.  Ons lewe is net ‘n oogwink, ‘n asemteug, “’n oomblik in die wind” (as ek André P. Brink se woorde mag leen).

B. keer diep ontnugter van die stiergeveg af terug, maar terselfdertyd verras deur die gasvryheid van ‘n groep Spanjaarde wat hom genooi het om die stiergeveg saam met hulle te kyk.

Vroegaand is dit tyd vir kermis.

Daar is nie tombola, wit olifante of gebreide vatlappies nie, maar dit voel asof daar dalk net iewers tussen al die joligheid ‘n pannekoektafel kon wees.