Brokkies

13 Junie 2020

Stapdag 6: Estella – Los Arcos 20,4 km

Ek was vanoggend bekommerd oor my knie, maar B het sy stok vir my geleen. Met twee stokke is daar minder gewig op my knie en gaan dit beter. 

O, waar is daardie donkerkopvrou? Die een wat ons op die oopte anderkant Cizur Menor raakgeloop het. Sy het so fluks met haar twee stapstokke aangestryk dat sy nie eers agtergekom het ek lag nie.  

Maar boontjie kry sy loontjie! Ek leer op die harde manier twee stokke verg konsentrasie – veral as jy ‘n dromer is. Ek pootjie myself en laat ‘n hele paar peregrino’s koes, omdat ek soms in ‘n onbewaakte oomblik daarmee beduie (tipies skooljuffrou). Dit neem ‘n dag of twee voordat ek min of meer sonder voorval kan aanstryk. 

Buite Irache stop ons by ‘n wynkelder met ‘n spesiale kraan waar peregrino’s gratis wyn kan tap. Ons vertoef saam met Jean (wat ons intussen ingehaal het😊) die Switser, Nick-die-Hollander en die broer en suster-span wat ons die heel eerste aand tydens die pelgrimsdiens ontmoet het.

Michael was die enigste persoon wat oor die paadjie uitgereik het om te groet. “Hi, I am Michael, brother of Tracy,” was sy woorde.

Van toe af soek ons mekaar op as ons paaie iewers kruis. Michael het ‘n kalmte wat hom omgewe – asof hy uit ‘n ander era kom. Hy is ‘n assistant in ‘n tehuis vir gestremdes in Meksiko.

Dis nog vroeg in die oggend. Die proeëry is ‘n aardigheid. Met soveel kilometer wat nog voorlê, verkies almal eerder water in hul bottels as gratis wyn.

‘n Ent verder draai ons by die Benediktynse Klooster van Irache af. Hier het monnike hulle sedert 950 n.C. oor pelgrims ontferm. Gedurende die 17e eeu het dit as die eerste universiteit in Navarre gedien. Die sandsteenkoepels en reuse binneplase met fonteine is al so verweer dat ‘n mens nie meer die motiewe daarop kan uitmaak nie.

Groot restourasiewerk word gedoen nadat dit amper 175 jaar leeg gestaan het. Die swart kloosterkat kyk met groot geel oë na ons deur ‘n venster.

In die kapel ontmoet ons ‘n Deense vrou, Gita. Sy het saam met haar man en stiefdogter na Suid-Afrika geïmigreer. Ná drie maande is sy terug huis toe.

Gita sê niks verder nie. Net dat ons die eerste Suid-Afrikaners is wat sy weer raakloop.

Dis net ons drie in die kapel.

Ek begin saggies ‘n gesang uit my kinderdae sing. Gita kyk verbaas op en val in Deens in. Ons kyk op in die koepel en ons sing. Ek van die suidpunt van Afrika en Gita uit die koue wêreld van die Vikings.

Op daardie oomblik los ons ma’s en ouma’s en al die vroue voor ons waarmee hulle ook al besig mag wees om ook te luister na ‘n lied wat ons almal soos ‘n voosgeleesde brief saambind.

Terwyl ek en Gita sing, dop hulle voorskote, skottels en gekraakte painted leather handsakke uit om vir ons die krag, vreugdes en lappies handgemaakte vrede te gee wat oor soveel geslagte saamkom.  

Op pad dorp-uit, pluk ek klimop en vinkel om ‘n krans te vleg. Ek sit dit om die bol van my hoed. Soos ek stap, pluk ek blommetjies en grassade en steek dit in die krans.

Azqueta sit bo-op ‘n heuwel. ‘n Mens sien die dorpie van ver af met die nabygeleë kasteel op ‘n ander heuwel. Nes in ‘n storieboek.

‘n Ent verder is die Fuente de los Moros (Fontein van die More). ‘n Indrukwekkende fontein wat aan die een kant met ‘n koepel toegebou is. ‘n Stel breë trappe lei af na die water. Die inloop is van agter. ‘n Groot vierkant in die middel van die dam laat die orige water uitloop indien dit te vol word – of so lyk dit. Ek het nog nooit so iets gesien nie en dit staan hier op die vlak. 

Vandag se roete is ‘n warm, warm, stofpad deur omgeploegde koringlande en hier en daar wingerde en olyfboorde. Die son staan stil. Heeltemal stil.

Teen ‘n bult kry ons vir Nick en Julie, ‘n Amerikaner, in die enigste stukkie skaduwee. Dié van ‘n hooimied. (Voortaan sou hooimiedens gereelde skuilplekke word.) Ons besluit om ook ‘n blaaskans te vat.

Nick laat skaam-skaam die aap uit die mou dat hy verjaar. 

Ons bou vir hom ‘n klein shrine met my gebedskrale, ‘n paar stukkies teël wat ek opgetel het en Julie se salie – wat sy aan die brand steek en Nick van kop tot tone vir sy nuwe lewensjaar “cleanse” dat die dampe so staan. 

Die Franse kom soek ook skaduwee. Hulle gee vir Nick ‘n appel vir sy verjaardag. ‘n Ier sluit by ons aan en gee vir Nick ‘n klippie wat sy saamdra. Na gelukwense word hy met my klimopkrans gekroon.

Toe dans almal stapstok in die hand om die hooimied met die birthday boy vooraan. Elke keer as ons ‘n rondte voltooi, val iemand anders in met ‘n verjaardaglied in sy/haar taal. 

Nadat almal uiteindelik in die skadustreep tot rus gekom het, bring Julie ‘n dosie met piepklein skulpies te voorskyn. Nick kry die eer om vir elkeen ‘n skulpie te gee – opgetel deur ‘n vrou wat op die strand van Kiwai-eiland oor haar dogter se dood gerou het deur elke dag met ‘n vergrootglas na die piepklein skulpies te soek. (Julie sê dit nie, maar iets in haar oë verklap dat sy dalk die vrou kan wees.)

Die laaste 12 km tot in Los Arcos het nie fonteine nie. Ons moet genoeg water saamdra.

In Los Arcos boek ons by die refugio langs die panaderia (bakkery) in. Ons kry ‘n eie kamer omdat ons Suid-Afrikaners is – al is dit ‘n stoorkamer onder ‘n lae dak. Dis skoon, netjies en die badkamer is nuut oorgedoen.

Bokant my bed hang ‘n eenvoudige kruis. Ek hang die nuwe krans van vinkel wat ek vir my hoed gevleg het daaroor. Die genade was vandag só groot vir my. My heup is oraait, my knie is oor en ek is skoon met ‘n bed om vanaand in te slaap.

Laatmiddag toe dit koel word, sit almal op bankies voor die deur in die straat. Die eienares van die panaderia rook haar sigaretjie. Ek skryf in my dagboek. Michael en Tracy probeer die rits van haar rugsak regmaak. Ou tannies van die dorp stap ingehaak verby.

Vir ‘n kort rukkie is ek ‘n inwoner van Los Arcos – tot moreoggend wanneer ek weer in die pad val.    

   

13 Junie 2020: Na drie dae se reën loop alles oor – die fontein, die voëls se drinkbakke, die watertenks. En my hart.

Die narsings staan nou hoog en spierwit. Die piempies beur son toe en die apiesbybel se twee bladsye word by die dag breër. Na eergisteroggend se donderweer staan die eerste pers blommetjie van die bolletjies wat ek by die Wellington-oompie gekoop het, kiertsregop. Beslis ‘n Kaapse plantjie!😊

In die “voorhuis” staan my winkelmandjie – nou vol lemoene. Elkeen ‘n soet stukkie son.

In die kombuis is ‘n enamel-bak met suurlemoene wat ‘n buurvrou gebring het (emaljebak – roep nie die beeld op van die bak waarin ouma altyd die oorskietkos vir die hoenders geskep het nie).

Die katte slaap stert-oor-die-neus.

Rolf Dobelle se woorde in sy boek Stop Reading the News roep al harder terwyl ek my eie weg tussen nodige nuus, statistiek en die geraas van advertensiegedrewe nuus probeer vind.

Oor een ding is hy reg. Ons ken die detail van mense aan die anderkant van die aardbol se lewe, terwyl ons dikwels nie weet hoe dit met die mense in ons straat gaan nie.  

Elke dag skuif ek die brug tussen my binne- en buitewêreld effens.

Nuus, was al wat ek nog gekyk het. Nou word die TV glad nie meer aangeskakel nie. Ek maak staat op spesifieke radioprogramme en webtuistes – maar ook hier begin ek wonder wat is nodig en wat nie? Soms stap ek om ‘n koerant te gaan koop sodat ek die bladsye onder my vingers kan voel en hoor.

Foto: Marie Prinsloo

Intussen loop die snoek – die maande se name het mos nie r’e nie.

Ek het Tafelbaai en die voet van die berg vir ‘n paar kort weke amper onherkenbaar helder gesien – soos lank gelede toe vissers nog met hul vangs op Woodstockstrand uitgeroei het. 

Dit is winter in die Kaap.

En sy is vanjaar onverstoord mooi.

Dankie!

Bron: Rolf Dobelli. Stop Reading the News. 2019. Hodder & Stoughton, London