Brokkies

13 Maart 2019: Wendy en Denver deel sy “drie hoera’s” tydens Valhallapark-biblioteek se Menseregtedagvieringe

Valhallapark-biblioteek is ‘n bynes van bedrywighede toe verteenwoordigertjies van al die Gr. R-klasse uit die omgewing opdaag om Menseregtedag en Biblioteekweek te vier.

Allan Kannemeyer en sy span verwelkom elke kind asof hy/sy ‘n eregas is. Hulle stap jare lank al die ekstra myl in hierdie bendegeteisterde gebied om ‘n veilige, ordelike en stimulerende omgewing te skep waar kinders en volwassenes van die sorge daarbuite kan vergeet.

Stories word met sang, dans, ’n poppekas en inligtingsaktiwiteite afgewissel.

Ek is so bevoorreg om “Drie Hoera’s vir Denver” te kan voorlees waarin die karakter Denver ouers en kinders begelei om bedag op molestering te wees.

Ons lig die biblioteekdak met ons basiese reg om “NEE!” te kan sê.

Daarna is dit jakkertyd met iets te ete in die hand.

‘n Geel plakkaat bly my dae lank daarna nog by:

“You want weapons? We’re in a library! Books! The best weapons in the world! This rooms is the greatest arsenal we could have.”