Brokkies

14 April 2020

14 April 2020: Die wind het laasnag gedraai en meteens ‘n golf soutlug so helder by die kamervenster ingespoel dat ek die bamboes in die maanlig op die water in my gedagtes kon sien wieg.

Daardie oomblik as die wind draai, was nog altyd vir my ‘n wonderwerk.
Die wete dat daar voortdurend met die maste en seile van ons groot skip gewoel word – alles in ‘n gelid wat ‘n mensekind se kop laat draai as jy sou begin somme maak.

Soggens maak ek heel eerste al die deure en vensters oop. “Om die dag in te nooi” – soos ek lank gelede gelees het. Dan streep die son gang-af. Verby die laventelbos en rooi malva teen die paadjie.  

Die eerste van die narsings wat ek Donderdag in die pot langs die voordeur geplant het, se groen puntjie het laasnag kordaat deur die grond gebreek. Toe ek die deur vanoggend oopmaak, was sy daar.

Die eetkamertafel het die middelpunt van die huis geword. Daar word gelees, geskryf, geëet, koffie gedrink, gemymer. Met die herfsluggie wat koeler en koeler word, het ek steeds ‘n uitsig op die tuin en die voëls wat kom bad en eet. Saans kan ek kyk hoe die son agter die sipresse ondergaan. Soggens hoe die glasogies om ‘n halwe nartjie jakker.

Nou, tydens die Grendeltyd, keer my gedagtes keer op keer terug na Tenzin Palmo, die dogter van ‘n visverkoper van Londen se East End, wat 12 jaar lank alleen in ‘n grot hoog in die Himalajas gebly het.

Al het ek haar verhaal (Cave in the snow) reeds lank gelede gelees, bly dit my by. Veral die gedeelte waar haar grot toegesneeu was, en sy vrede moes maak met die feit dat sy moontlik nooit weer daar sou uitkom nie. 

En toe, in ‘n oomblik van waansin ‘n paar jaar gelede, bly die boek tydens ‘n groot skoonmaak in die slag!

Die laaste ding wat ek gedoen het voordat Grendeltyd aangebreek het, was om in ‘n boekwinkel te vertoef. Dit gaan ook die heel eerste ding wees wat ek doen wanneer alles na normaal terugkeer – met Cave in the snow as herdenking aan hierdie tyd van inkeer.  

Ek het die Nederlandse weergawe van die camino se pelgrimsgebed uit een van my dagboeke gehaal en by die klein shrine op die eetkamertafel gesit. Daar is ook die blou kers wat ek tydens stiltetyd brand, ‘n lappie wat Ma lank gelede geborduur het, ‘n kruisie wat kollega Dawid uit Jerusalem gebring het, ‘n weskus-skulp en gewoonlik iets wat blom uit die tuin. In ‘n stokou glaspotjie wat tannie Veasey, ‘n buurvrou van baie jare, een lentedag vir my gegee het.

 

Gebed van de Pelgrim

O God, die Uw dienaar Abraham weghaalde uit de stad van de Caldeeërs, Ur, hem beschermde op al zijn pelgrimstochten, en de gids was van het Hebreeuwse volk bij de doortocht van de woestijn.

Wij, Uw dienaars, die in Uw naam naar Santiago de Compostela gaan, vragen Uw bescherming.

Wees ons nabij tijdens onze tocht

wees onze gids op die kruispunten

wees onze moed bij vermoeidheid

wees beschermer bij gevaar

wees beschutting op de camino

wees schaduw bij warmte

wees licht in de duisternis

wees bevestiging in onze voornemens.

Opdat we door U begeleid, gezond en wel de camino mogen beëindigen. Verrijkt in deugd en genade, ongedeerd huiswaarts mogen keren, vervuld van een heilzame en blijvende vreugde. Door Jezus Christus onze Heer. Amen.

 

Dis opvallend hoe die stroom boodskappe wat die begin van Grendeltyd gekenmerk het, stiller geraak het. Die gegons het opgehou.

Nou is dit aanhou stap met die stil vertroue dat hier iets goeds van sál kom.