Brokkies

15 Mei 2020

15 Mei 2020: Maart se stil, mistige herfsdae is amper vergete. Die son skyn elke dag met mening. Dis net die kaal amandel voor die kamervenster en die spierwit narsings wat my daaraan herinner dat dit amper winter moet wees. 

Aand na aand gee die sonsondergang die mooiste kleure: “Red sky at night, shepherds delight” – soos die ou gesegde belowe. Ek kyk verniet uit vir “Red sky in the morning, shepherds warning”.

Terwyl ons almal hierdie week op nuus van President Ramaphosa wag, bly my gedagtes terugdwaal na nuus van lank gelede – die Groot Stormwind van 17 Mei 1865.

Ek moet bieg. Elke jaar gedurende hierdie laaste paar mooi dae van Mei dwaal ek in die gees op en af teen Woodstockstrand van destyds. Sodra die eerste storm inkom, sak ek met genoeg leeswerk na Ons Huisie Restaurant af om by ‘n tafel teen die kaggel die naderende storm oor ‘n koppie koffie dop te hou.  

Die oggend van 17 Mei 1865 was nog lekker warm. Teen middagete was dit skielik koud. Toe die son ondergaan, was dit duidelik: Die somer is verby! Die lug was ‘n onheilspellende kleur en die wind het gehuil asof hy geweet het wat hy nog alles gaan aanvang.

In die hawekantoor het die hawemeester net een kyk gegee na die skepe in die baai wat aan hul ankertoue ruk en pluk. Sonder om twee keer te dink het hy benoud seine vir die skeepskapteins uitgestuur. Maar dit was te laat. Die storm was op hulle. Een na die ander kaptein het sy skip se noodvlag laat hys om te laat weet die anker sleep. 

Teen daardie tyd het ‘n skare mense die storm op die strand trotseer om te probeer help, maar verniet. Selfs die kleiner bootjies wat gewoonlik gebruik word om te help, kon dit nie op die rowwe see waag nie. Uiteindelik moes Kapenaars magteloos toekyk hoe agtien skepe en dertig kleiner bote hulself op die strand te pletter loop. Twee en vyftig mense het in die reusebranders verdwyn.

Dwarsdeur die nag en die volgende dag het skepe op Woodstockstrand en naby die Kasteel uitgespoel. Teen sononder daardie aand was daar nog net ‘n paar wat dit op die woeste water kon uithou. Een van hulle, die Athens, was ‘n stoomskip wat pos tussen Engeland en Suid-Afrika vervoer het. Nie lank nie of ook sy anker het gesleep. Kaptein David Smith het ‘n sein gestuur dat hy gaan probeer om die skip in die oop see te kry.

Almal het styf duim vasgehou toe die Athens in die skemer verby die destydse Mouillepunt-vuurtoring beur. Dit was ook die laaste keer dat enigiemand die skip heel gesien het. ‘n Paar uur later was dit net ‘n wrak op ‘n rif skaars 100 meter van die strand af. So naby dat die mense op die strand kaptein Smith en sy 29 matrose se noodkrete kon hoor. Kort daarna het die skip opgebreek en die krete het stil geword.  

Toe die Kapenaars ‘n paar dae later hoor waarom die Athens gestrand het, kon hulle nie hul ore glo nie: Iemand het vergeet om ‘n venstertjie in die enjinkamer toe te maak. Seewater het daardeur gestroom en die vuur geblus wat die stoomenjins aan die gang moes hou! (Ek wil nie weet wat hieroor op sosiale media sou gebeur nie.)

Die City of Peterborough se bemanning het ‘n sprankie hoop gehad. Iemand het ‘n Manby-vuurpylreddingstoestel gebruik om ‘n reddingstou na die skip te vuur. Of hulle ooit die tou in die hande gekry het, sal niemand weet nie. Die branders het al die bemanning van die dek af gespoel. Die volgende dag het die liggame van die matrose, die kaptein en sy vrou, met hul baba in haar arms, op die strand uitgespoel.

Twee dae later het die storm uiteindelik bedaar. Tafelbaai se strande het soos ‘n slagveld gelyk. Seile, maste, boegbeelde en stukke hout het so dig opmekaar gelê dat dit moeilik was om daar te loop. Soos altyd het die Kapenaars hul moue opgerol en mekaar gehelp. Nou en dan het iemand sy kop geskud om seker te maak dat dit nie ‘n nare nagmerrie was nie.

Vandag nog steek ‘n deel van die Athens se wrak bo die water by Mouillepunt uit. ‘n Mens moet baie mooi kyk. Dis al so geroes dat dit net soos die rotse lyk. Van die otjie wat die oggend ná die storm springlewendig op die strand uitgespoel het, is daar nog net stories oor. Jy kan die een wat sê hy was die enigste oorlewende bemanningslid van die Athens gerus maar glo. Dis net so waar soos die Groot Stormwind van 1865.

Glo dit of nie. Byna presies 120 jaar later, op 17 Mei 1984, tref ‘n storm net so sterk soos die Groot Stormwind van destyds die Kaap. Gelukkig is skepe nou al sterker gebou en word hulle beter geanker. Tegnologie het intussen ook een van ons beste vriende geword.

En nou, in die tyd van Covid-19, wéét ek ons sal met Genade van Bo ook deur hierdie storm kom. Ons Suid-Afrikaners is nie verniet aan die suidpunt van hierdie kontinent nie. Ons word gebore met ons voete in die Kaap van Storms se water. 

 

Stapdag 3: Trinidad de Arre tot Cizur Menor (9 km)

Ná twee dae in die veld en klein dorpies durf ons vandag ‘n stad aan – Pamplona. Plek van die jaarlikse bulstormloop en groot tamatiefees.

Om ‘n stad binne te ry, is een ding. Maar om ‘n stad binne te stap, is ‘n perd van ‘n ander kleur. Dit voel asof jy nooit aankom nie. Eers die uitgespreide buitewyke, die industriële gebiede, dan die woonbuurte, padverleggings en snelweë waar jy maar jou oë toeknyp en onder engelvlerke op die skouer voortbeur. Ek stop en haal die glimstrook uit my rugsak wat om my lyf gedra moet word. Vir die eerste keer verstaan ek waarom glimstroke op Greeba en Rory se lysie was. 

Elke keer as ‘n reuse vragmotor hier langs my verby brul, verlang ek na die berge en riviere en werfhoenders wat onder wasgoeddrade skrop.

Gelukkig is ek nie meer so styf nie. Maar ek sukkel om die beeld van die Fransman uit my kop te kry wat gisteraand sy halwe kilogram rou maalvleis smaaklik verorber het. Wat maak ‘n mens met so ‘n wilde skepsel? Hou jy hom aan ‘n ketting langs die agterdeur?

Op pad uit aan die ankerkant van die stad loop ons ‘n Oostenryker raak wat die kerk soek. Ons besluit om saam te stap. Ná twee espresso’s gaan ons die kerk binne en kniel – nou al soos ou Roomse.

Vang net mooi die laaste deel van die oggendmis. Ek verwonder my aan die lieflike gebrandskilderde glasvensters, die sterre teen die dak en die vergulde versierings. Oud en deurleef, maar nie so flambojant en blink soos in Mexiko nie. ‘n Reuse goue kruismotief teen die lengte van die gangkoepel dateer uit ‘n era iewers tussen die 9e en 11e eeu.

Daar is elke dag soveel gewaarwordings. Soveel dorpies waardeur ‘n mens stap. Soveel ou, mooi dinge. Vriendelike, bedagsame plaaslike mense. Een groot warboel van indrukke. Gister voel soos ‘n week gelede en eergister soos ‘n maand terug. Ek het altesaam 53 km gestap.

As ek terugkyk nadat ek deur ‘n vallei gestap het, veral na die klofie waar ek dit binnegekom het, dink ek aan die heuwels, woude en riviere wat ek agterlaat. Dan voel ek bevoorreg om een van ‘n klein groepie Suid-Afrikaners te wees wat hul voetspore tot dusver daar gelos het.

Navarre is werklik die koninkryk van ouds. ‘n Plek van woude, helder riviere, ou brûe, en eeuoue geboue. Een van die dorpies waardeur ons môre gaan stap, was die vergaderplek van edelmanne wat toegesien het dat die koning se mag nie te veel word nie.

By die ingang na die ou deel van Pamplona het ek my aan die oorblywende dele van die stadsmuur met wagtorings verkyk. Die muur is maklik 6 tot 7 verdiepings hoog. ‘n Valbrug met dik kettings op ‘n reuse katrol aan die binnekant. Hier lê die geskiedenis laag op laag.

Ons boek by ‘n refugio in wat deur die Orde van Malta bedryf word. Dis soortgelyk aan die Rotariërs. Die groot ou gebou is op ‘n heuweltop met ‘n rooi vlag wat op die dak wapper. ‘n Mens sien dit van ver af soos jy met die grondpad aankom. Twee reuse vyebome staan op die werf. ‘n Ou kerkgebou is deel van die opset. (Sodra die refugio vol is, word daar matrasse in die kerk ingedra.)    

Ons word met ‘n glas water, wat uit ‘n erdebeker geskink word, by die voordeur verwelkom. Dié mooi gebaar word aan elke pelgrim betoon wat aanmeld.

Dis die 4e oornagplek. Onder die venster in die groentetuin slaap ‘n ma-kat en vyf kleintjies. Op pad hierheen het ‘n ou oompie op sy fiets verbygery met ‘n kissie vol ryp vye agterop vasgemaak. Hy het ‘n handgebreide trui aangehad.

Ek het meteens na ouma Winnie verlang.


  

*Gedeeltes uit die vertelling oor die Groot Stormwind kom uit my boek Stories van die See uitgegee deur Protea Boekhuis. Dit is ook beskikbaar as Sea Stories.

Klik hier om te bestel: