Brokkies

17 Augustus 2020

Stapdag 12: Belorado na St. Juan de Ortega (24 km)

Ons lywe is moeg. Die 2e en 5e dag was moeilik. Die res was weer beter, maar vandag eis sy tol. 

Dag 1 was ek so opgewonde. Dit het gevoel asof ek met rugsak en al sulke klein entjies kon vlieg – sonder Red Bull!! Salig onbewus van die 2e oggend en die werklikheid van nog honderde kilometer wat wag.

Dag 3 wou ek rebelleer, maar het nie mooi geweet teen wat nie. Toe hou ek maar aan met stap.

So gaan die dae verby. 

Gisteraand het ons die eerste keer in ‘n privaat refugio geslaap. Dis die enigste huis in ‘n lang ry vervalle geboue wat bewoon word. Die klein agterplaas het ‘n vyeboom, braai, wingerdstok, rose, klimop en ‘n gold crest-sipres teen ‘n klipmuur.

‘n Wit ma-kat en haar kleintjies skarrel rond – so skrikkerig. Ek voer hulle jogurt. Probeer tannie Iris bel. Verlang my katers. En die tuintjie maak my lus om my hande in hierdie heerlike ryk grond te steek.

Die eerste streek waardeur ons gestap het, is Navarre. Toe Rioja en sedert gister stap ons deur Castille.

Vanoggend is gister se swaarkry vergete.

Ek kan nie wag om ‘n vars brood by die bakkery in Villafranca des Montes de Oca te koop nie, want gewoonlik is die bakkery die hart van ‘n plek.

Ons tref nie veel meer as ‘n verwaarloosde gebou op die uithoek van ‘n oliebesmeerde staanplek vir reusetrokke aan nie. Die enigste ander klante is luidrugtige vragmotorbestuurders wat ‘n blaaskans ná die Pedroja-pas neem. Selfs die sogenaamde motel is grys en moeg, met ‘n paar stukke klere wat oor ‘n lendelam balkon wapper. Die reuk van ghries en rubber syfer uit die stuk grond waarop die welige varings van die omliggende woude baie jare tevore moes gegroei het. Behalwe vir die kerk wat behoue gebly het, is daar nie veel oor van die dorpie se ryk verbintenis met die Camino nie.

Die laaste paar kilometer moes ek my stap ken wanneer die einste trokke kort-kort met ‘n rukwind verbyspoed en ‘n olie-en-watermengsel oor ‘n mens sproei wat later in taai straaltjies teen jou bene afloop.

Ná die verposing by Villafranca des Montes de Oca, pak ons die skof tot by San Juan de Ortega. Dié wildernis wat oor kilometers bergagtige eikewoude voor my uitstrek, was eeue gelede die skuilplek van struikrowers en troppe wolwe. Legendes vertel dat selfs rowers hulle tot die dorpskerk van Villafranca des Montes de Oca vir beskerming gewend het.

Gedurende die Spaanse Burgeroorlog was dieselfde woude snags ‘n plek van teregstelling – plaaslike inwoners het soggens die liggame van mense wie se politieke oortuigings nie langer deur die opposisie geduld is nie, begrawe.

My gidsboek waarsku dat ‘n mens nie in dié woude deur die donker of stormweer oorval moet word nie.

Dit is in hierdie wildernis wat die eenvoudige dorpspriester, Juan de Velázques, in die 11de eeu met sy selfopgelegde taak begin het. Hy was ‘n volgeling van Domingo de la Calzada en het paaie, ‘n abdy en ‘n hostel gebou waar pelgrims van hul ontberings kon herstel. So het San Juan de Ortega, soos hy later bekend gestaan het, die aandag van die destydse koning Alfonso VII getrek. Maar aan eerbetoon het die priester min erg gehad – hy het sy tyd tussen die pelgrims verwyl. Sewe eeue na sy dood staan daar steeds geskrywe “… die abdy is arm, maar hier is altyd iets vir die armes”.

Daar is ook iets vir óns, wat verras word deur ‘n nuutgemerkte roete. En deur die plaaslike polisie, wat die roete patrolleer en twee keer besorg navraag doen oor ons welstand en watervoorraad.

Vandag word San Juan de Ortega se nalatenskap deur die bejaarde priester, Vader José Maria Alonso Marroquin, voortgesit. Dit is hy wat ons in die poort verwelkom en vir die aanddiens en sy legendariese knoffelsop nooi.

Tydens die diens dring ook hy daarop aan dat ons paar gehawende pelgrims – met ons pleisters, spierverbande en stywe skuifelstappies en al – in die voorste ry sit. Bokant ons is die eeue oue kliptafereel waar die son vandag tydens die dag-en-nag-ewening ‘n enkele straal oor Maria moes laat val het.

Maar die elemente het anders besluit.

Tog is daar ‘n lig in die pelgrims rondom my se oë. Jeff, wat huisouer vir vier verstandelik gestremde mans is, en in sy karige vrye tyd huise vir haweloses bou. Tom, wat in ‘n nagskuiling in New York woon en werk – hy het sewe jaar gelede daar aan die ontvangkant gestaan. Michael, wat al meer as 1 600 km vanaf Monaco agter die rug het en die nuwe priester in Najera só met sy rekenaarkennis betower het dat dié skandelik laat vir die mis was, sodat die koster hom moes gaan soek. En ‘n mede-Suid-Afrikaner op wie se KKNK-hempie staan Sing, bliksem, sing! Sy het die vorige dag hopeloos verdwaal en danksy twee skaapwagters by Ortega uitgekom.

Toe ons na die diens aan die lang houttafel sit, deel Vader José self die bekers met knoffelsop uit. Nie lank nie of daar word gesellig gekuier.

Ek glip ongesiens tussen die joligheid uit en gaan soek die stil donkerte van ‘n buitemuur op. Ten spyte van die dag se reën gloei die klip nog met ‘n effense warmte. Hier en daar steek ‘n laat papawer kop uit tussen ‘n stapel genommerde klippe wat tydens die restourasiewerk eenkant gestapel is. Vader José se gehawende wit Renault staan langs die fontein, waar ‘n pelgrim ‘n paar stukke nat wasgoed vergeet het.

In my dagboek is ‘n aanhaling van Albert Schweitzer. “You need not search for the meaning of your life. Just be who you are – in that way you will touch many lives – and will give purpose to your own.”

Toe steek Vader José se hond sy nat snoet in my hand en ek hoor San Juan de Ortega hartlik tussen die ander daarbinne lag.

Terwyl ek hier skryf, kry ek ‘n blaartjie van een van daardie papawers in my dagboek. Saam met ‘n motief wat ek op die lyntjiesblad oorgeteken het. Vader José Maria Alonso Marroquin is intussen oorlede. Vir my sal hy altyd deel van Ortega en hierdie lewensreis wees.

*’n Deel van hierdie inskrywing het in LiG verskyn.

** Wendy se Camino-dagboek kan ook op haar fb-skrywersblad gevolg word: www.facebook.com/WendyMaartensSkrywersblad