Brokkies

18 Januarie 2019: Asemic Writing (Writing without Meaning) – Wat ‘n avontuur!

Na meer as ‘n dekade van skryfwerk waartydens ek elke dag ure spandeer om die regte waarde aan ‘n woord, sin en storie te koppel, word ek in wonderlike diepwater gegooi tydens ‘n heel andersoortige kursus deur die twee kunstenaars en hartsvriendinne Heleen de Haas en Leesette Turner.

Skielik moet ek van my logiese linkerbrein probeer vergeet (wat tog o so woordbetotteld is) en slegs vanuit my regterbrein werk. Maar daarvoor het Heleen en Leesette oorgenoeg ondervinding en inspirasie.

Kort voor lank laat ons groep vroue die ink oor papier dans met sade, vere, en alles onder die son wat ‘n mens se hart laat sing. Teen die einde van die eerste dag staan ons in verwondering oor die nuwe letters, alfabette en verwante ontwerpe wat spontaan uit ons binneste vloei.

Ek leer om oor te gee en my hand net eenvoudig self haar eie letters te laat skryf.

Elke CD-snit, gedig en vertelling bring ‘n andersoortige alfabet na vore met eindelose moontlikhede op doek.

Daarna word dit vereenvoudig en afgerond tot ‘n eenheid.

Tot matelose vreugde van my, die kunstenaar, en elkeen wat iets anders in sy/haar hart lees ten aanskoue van so ‘n klein wonderwerk.

‘n Groot dankie aan Heleen, Leesette en my Asemic-bondgenote!