Brokkies

2 September 2018: Helde van Suid-Afrika 2 vlieg hoog!

Die tonge klap nog na Helde van Suid-Afrika 1 dan is die tweede boek in die reeks al op die winkelrakke.

Hierdie lekkerlees-reeks vir laer grade is ‘n opvolg van Maartens se Suid-Afrikaanse helde en ikone wat in 2013 deur Lapa uitgegee is.

Die bundel vertel die verhale van:

  • Klara Majola wat haar blinde pa een ysige nag in die Koue Bokkeveld gaan soek het
  • Richard Simelane, ‘n mynwerker, wat 18 van sy makkers ná ‘n rotsstorting met sy kaal hande uitgegrawe het
  • Pieter Koen, wat met sy lewe betaal het om vyf van sy skoolmaats in die Westdene-busramp te red
  • Hector Pieterson, wat deur die polisie doodgeskiet is op 16 Julie 1976, die dag wat as Jeugdag gehuldig word
  • Sultan, die herdershond, wat kopgehou en sy baas uit die kake van die dood gered het
  • John Ross, ‘n 12-jarige knaap, wat 1000 km deur die wildernis gestap het om medisyne vir sy siek vriende te gaan haal

 

Bestel by: 012 401 0700

 

 

Berig uit Die Burger van 21 Augustus 2018: Boek leer jonges van land se ‘superhelde’ ~ deur Laetitia Pople

Hoe verduidelik ’n mens aan ’n kind van watter stoffasie ’n held gemaak is? Is dit ’n breëbors-superheld wat mense uit geboue red of wat blitsig van gedaante verander en teen die spoed van lig mense te hulp snel soos hulle in Hollywood-flieks sien?

In die nuwe kinderboek Helde van Suid-Afrika 2 ontmoet kinders wat pas begin lees het van Suid-Afrika se dapperste helde. Een van hulle is ’n hond met die naam Sultan en ’n ander is ’n skoolseun.

Die boek geskryf deur Wendy Maartens is ’n opvolg van haar Suid-Afrikaanse helde en ikone wat Lapa in 2013 uitgegee het.

Onder die helde tel die skoolseun Pieter Koen, wat vyf van sy skoolmaats gered het in die Westdene-busramp, maar toe self verdrink het; Hector Pieterson wat deur die polisie doodgeskiet is op 16 Junie 1976, die dag wat gehuldig word as Jeugdag; en die mynwerker Richard Simelane wat 18 van sy makkers met sy kaal hande uitgegrawe het ná ’n mynstorting.

Maartens doen haar navorsing in die Nasionale Biblioteek in Kaapstad. Sy het helde gesoek wie se storie vir haar ’n hol kol op die maag gee. Sy het eerste die mense gekies van wie sy self nog altyd meer wou weet – veral oor hul kinderjare.

“Hoe beter die storie was en hoe groter die struikelblokke wat die held moes oorkom, hoe makliker was dit om te kies.”

Wendy Maartesn Helde van SA 2Sy glo dat die verhale in die boek, asook die verhale in die oorspronklike boek, nie net tot die Suid-Afrikaanse kind spreek nie, maar veral tot die Afrikaanse kind van vandag.

“As jy daardie verhale vir jou kind gelees het, behoort hy ’n goeie idee te hê van wie hy is en waar sy wortels lê.”

As kinders hul eie stories ken, kan hulle ander se stories waardeer en “onvoorwaardelik uitreik na ander taal-, kultuur- en godsdiensgroepe”, glo sy.

In die boek is daar nie politieke figure nie – juis omdat sy kinders wil laat besef dat die rigting van ’n land en sy mense nie soseer deur politici bepaal word nie. “Dit word deur die gesindheid, etiek en hardwerkendheid van die landsburgers bepaal.”

As kinderboekskrywer word sy gereeld genooi om praatjies te lewer. Sy moedig die kinders en ouers dan aan “om te besef dat die krag van ’n vulkaan, orkaan of tsoenami in hul gees is”.

Kinders doen wat hul ouers doen, meen sy. “Baie mense werk so hard om die blink kant bo te hou – die vals beeld van sosiale media – maar as dit heeltyd goed gaan, leer kinders nie om moeilike tye aan te durf en probleme behoorlik op te los nie.”

Sy hoop elke kind wat die verhale lees, sal besef dat die helde almal doodgewone mense was wat ’n gewone lewe gelei het.

“Hulle was nie bang vir swaarkry nie. Hulle het nie moed opgegee nie en nie omgegee om ongewild te wees nie. En geld het nie in een van die verhale ’n rol gespeel nie.”

Maartens glo dat die grootste geskenk wat ’n kind vir hom- of haarself kan gee, “is om jouself met niemand te vergelyk nie, maar net die beste jy onder die son te wees”.