Brokkies

2 September 2020

Dag 14: “Happiness is not something you experience. It is something you remember.”

Laatmiddag haal ons die bus Santo Domingo de Silos toe om na die monnike se Gregoriaanse dreunsang te luister – in die oorspronklike vorm. Dit voel vreemd om die 57 km te ry nadat ek soveel dae lank elke tree gestap het.

Die abdy en kerk lê digby die ingang na die dorpie. Verder na agter is ‘n populierbos en fontein. Die gekwetter van honderde spreeus in die sipres langs die kloktoring doof B. se klop uit.

‘n Monnik wat homself as frére (broer) Antonio voorstel, maak die deur binne die swaar houthek oop. “Quiere una habitación?” (“Soek julle verblyf?”) vra hy.

Ons kry ‘n kamertjie in een van die buitegeboue op die reuseterrein. Frére Antonio vertel dat die klooster geen betaling vir die verblyf wil hê nie en dat ons asseblief geen geld met ons vertrek moet agterlaat nie. Al wat ons moet doen, is om die ervarings in Silos met vriende en familie tuis te deel.

B. kan sy geluk nie glo toe frére Antonio hom nooi om die binnekant van die abdy te besigtig nie. Hy kom vertel verwonderd dat die eetsaal al gedek is vir aandete. Brood en wyn op lang, skoongeskropte houttafels.

Ons het net genoeg tyd om nes te skrop. Die aandluggie is koud. Ons sit ons wolmusse op en stap al met die voet van die heuwel langs tot by die kerk. Net betyds vir die Maitines wat sesuur begin.

Dié sang het in die 6de eeu ontstaan en het in die Middeleeue in onbruik geraak. Min of meer dieselfde tyd as wat die Berlynse muur geval het, het die handjievol monnike van Silos onwetend die byna onmoontlike vermag – om Gregoriaanse dreunsang stil-stil die gewildheidsleer te laat klim.

Toe die mensdom sy oë uitvee, is meer as 4 miljoen CD’s verkoop. En dít terwyl lang frases Latyn uit die Donkereeue onveranderd aan die mense van die 21ste eeu gebring is.

In ‘n gemeenskap soos Silos word elke dag tot ses keer gesing. Die helende krag lê in die eenvoud van die melodieë. Daar is geen vorm van begeleiding nie en ook geen harmonisering van verskillende stemme nie. Absolute, gestroopte eenvoud.

 

Ons skuif saam met die paar dorpenaars by die krakende houtbanke in. Ek kyk hoe die flikkerende kerse aan die donker boog van die dak lek-lek.

Die monnike stap geruisloos teen ‘n groot houtkruis agter die altaar verby na die koorbanke. Hul donker jurke met puntkappies maak so ‘n sagte “swiesj”-geluid dat ek nie seker is of ek hulle werklik hoor en of dit my verbeelding is nie.   

Vir die volgende halfuur sweef mansstemme soos wierook deur die ou gebou. Dit draai in elke hoekie en donker klipkrakie. Met ‘n ritme soos golfies wat uitstoot en terugtrek, uitstoot en terugtrek op ‘n strand vol gladde klippies, styg en val die stemme. ‘n Kalmte spoel in my oop.

Die Latynse klanke lê aanvanklik vreemd op my oor, maar later verstaan ek sonder dat woorde nodig is. Toe die laaste note wegsyfer, staan twee jong monnike op en sprinkel wywater weerskante van die groep. Daarna stap hulle na ons klompie in die banke en sprinkel ook die seëning oor ons. Ek laat sak my kop en ontvang dit dankbaar.

Die monnike verdwyn net so stil soos hulle gekom het.

Ons stap uit in die koue berglug om na die sterre te kyk. Om die draai in die pad, daar waar die stikdonkerte van die omringende berge soos ‘n gordyn begin, wag die volmaan groot en geel.

Ek dink aan Oscar Levant wat gesê het:Happiness is not something you experience. It is something you remember.”

 

*’n Deel van hierdie plasing het in Sarie verskyn.

** Wendy se Camino-dagboek kan ook op haar fb-skrywersblad gevolg word: www.facebook.com/WendyMaartensSkrywersblad