Brokkies

20 November 2020

Stapdag 19: Hier is die herfs al besig om plek te maak vir vroegwinter. Soggens kan ek voel dat die klere in my rugsak te min raak.

Astorga na Rabanal del Camino (20 km)

Ek slaap soos ‘n klip. B. maak my wakker. Kort daarna word ‘n opname van Benediktynse dreunsang oor luidsprekers in die gange gespeel. Ek dink aan die nonne wat gisteraand se mis agter ‘n afskorting van tralies bygewoon het – skril, weemoedige stemme wat met oorgawe sing: “In nomine Patris et Filii, Spiritus Sancti… (In die naam van die Vader, Seun en Heilige Gees).”

Ontbyt is by ‘n kroegie net twee straatblokke verder – soet croissants met koffie. Vandag lê die dorpies net ‘n paar kilometer van mekaar af ingeryg: Murias, Santa Catalina, El Ganso, Puente de Paῆote.

Ná 10 km koop ek van dieselfde koekies as wat die twee priesters vir ons gegee het. Die pad raak stil. Ons stap deur die mooiste dorpies denkbaar. Baie skaapkrale en herders wat met hul troppe op pad heuwels toe is.

Ek stop by ‘n kerkie uit die 1600’s om ‘n vergete sonnewyster op ‘n symuur te bekyk. In die deurmekaar tuin is ‘n enkele rooi dahlia.

Agter die gebou kruip ‘n klein begraafplaas weg. Die tralievenster in die hek is deurryg met pastiekblomme. Daaragter is ‘n klompie grafte styf teenmekaar – ook oorlaai met plastiekblomme.  

‘n Paar kilometer verder wag die reuse-pelgrimseik ons in. Hoeveel ander peregrino’s het al in sy takke opgekyk en nie woorde gehad nie?

Toe ons Astorga binnestap, speel rustige musiek oor ‘n luidspreker in ‘n swart plastieksak. Dit is staangemaak op die kroeg se vensterbank. Buite sit niemand anders as Nick-die-Hollander. Hoe goed om hom weer te sien!

Ons boek by die refugio in. Langsaan is die klooster en net oorkant ‘n reuse-sipres en die kerkie waar die monnike ook hul dreunsang op die oorspronlike Benediktynse manier doen.

Die refugio word deur vrywilligers bedryf wat vir drie weke op ‘n slag uit Brittanje kom. Dis pragtig herstel.

Voor die deur op ‘n kliptrap is ‘n klipkruik met water vir dorstige peregrino’s. In die binnehof is ‘n blombedding en ‘n peerboom. ‘n Ma-hond en twee kleintjies met vet onseker beentjies draf rond en geniet die aandag. Ons sit ons rugsakke voor die deur neer en gaan drink ‘n bier by die vrolike kroeg.

B., Stavros en ‘n Duitser span in die son teen die klipmuur uit. Ek trek my stewels uit dat my voete kan son kry. Die refugiohond kom sluit by ons aan.

Ná ‘n brandwarm stort verken ek die dorp en koop ‘n klein houtikoon by die kloosterboekwinkel. Om 7-uur gaan ons Vísperas toe. Die kerkie is oud, klein en vervalle, maar vir my is dit die mooiste van al die kerke en katedrale wat ek al gesien het. Die twee monnike se beurtsang pas by die stil eenvoud van die dag.

Die Pelgrimsgebed word ook in Frans, Duits en Engels gedoen. Ons antwoord met sang. Ek huil dat die trane loop. Buite pluk ek ‘n ridderspoor om in my hoed se band te steek. Dis tannie Iris se gunsteling-bloupers kleur. Sal sy vanaand by die hek staan en na haar lentetuin kyk? Hier is die herfs al besig om plek te maak vir vroegwinter. Soggens kan ek voel dat die klere in my rugsak te min raak.

Dis amper donker. Ons staan op ‘n hoogte en kyk oor die klipmure, akkerbome en veld – elkeen met sy eie gedagtes. Daarna is dit tyd vir aandete: koolsop, calamari en ‘n soort waatlemoen.

Rabanal del Camino sal in ons harte bly.

Môre is dit berg-op Foncebadón toe.

Dis tyd vir die Ysterkruis.

** Wendy se Camino-dagboek kan ook op haar fb-skrywersblad gevolg word: www.facebook.com/WendyMaartensSkrywersblad