Brokkies

21 April 2020

21 April 2020: Vanoggend skryf ‘n kollega in ‘n e-pos: “Die dae voel nie meer vir my soos dae nie. Elke dag blur in die volgende in. Vreemde tye!”

Ek deel ‘n WhatsApp met haar: “Until further notice, the days of the week are now called, thisday, thatday, otherday, someday, yesterday, today & nextday.”

Ek het hierdie poskaart by Evita se Perron op Darling gekoop. Ek het n vermoede dit was n gemeenskapsprojek. Die blou kerk het my net so na die camino laat verlang.

Dis ons binneklokke se eiesoortige manier om die pas te markeer. ‘n Mens is so gewoond aan haastig wees. Skielik is verkeer nie meer ‘n kwessie nie. Daar is tyd vir nog ‘n koppie koffie. Vir nog ‘n geselsie. Vir iets ekstra doen.

Dis toe dat ek Philip Zaleski en Paul Kaufman se *Gifts of the Spirit – Living the wisdom of the great religious traditions weer oopslaan:

“All contemplative disciplines share a love of stillness, silence, and attention. They lead us out of destructive emotions like envy, jealousy, and hatred and into clear thinking and lovingkindness.”

En dis presies wat ons nou te midde van die alledaagse doen. Ons is besig om die legkaartstukkies van ons lewens weer goed te bekyk en splinternuwe legkaarte te bou – nie soos ‘n prentjie op ‘n boks nie. Soos die Vader elkeen van ons se prentjie in die eerste plek bestem het om te lyk.

Camino 1: Somerset-Wes tot Roncesvalles

Dit was ‘n trek op sy eie om tot in Roncesvalles te kom. Gevlieg via Heathrow tot in Madrid met ‘n nag se oorslaap – wens ek kon die droewige aalwyn in die hotelletjie se donker binnehof met pot en al uit sy ellende verlos. Hy hoort op die wye Karoovlaktes, nie hier nie. Maar waarheen gaan ek met ‘n aalwyn in ‘n pot as die camino nog voorlê?

Oor die volgende paar weke sou ek myself nog ‘n hele paar keer dieselfde soort vraag vra as ek ‘n rondloperhond of vele ander dinge raakloop wat my hart tuitpunt laat trek.

Soos altyd bestel ek vonkelwyn kort nadat die vliegtuig opgestyg het. Die dag waarop ‘n mens vertrek is ‘n viering van soveel goeie mense en dinge wat die reis uiteindelik moontlik maak. Jy kan nie anders as om in verwondering terug te kyk oor die afgelope paar maande en oor te loop van dankbaarheid nie. Van meneer Honing, my skoolhoof by Laerskool A.F. Louw, wat altyd bereid is om ‘n plan te maak as ek in sy kantoor opdaag om ekstra reistyd te vra. Tot tannie Iris wat met soveel liefde na huis en haard omsien. En Ma wat sonder ophou vir ons veiligheid bid.

Niemand bid mos vir ‘n mens soos jou ma nie. 😊 ❤️

Van Madrid na Pamplona met die trein. Ou-ou huise en kasteelagtige vervalle geboue flits verby. Sommige staan soveel jare leeg dat daar groot bome binne-in groei. Oral bewerk mense hul blomtuintjies en lappies groente in die sonskyn.

In Pamplona ontmoet ons vir Jean, ‘n afgetrede bankier. Terwyl ons vir Roncesvalles, die heel laaste Spaanse dorpie op die Franse roete mik, sien die 72-jarige Jean vir heelwat meer kans. Hy is onderweg na St. Jean Pied de Port. Die eerste dorp aan die Franse kant van die grens – wat beteken dat hy die heel eerste dag meer as dertig kilometer bergop moet stap. Sonder ‘n slaapsak om sy rugsak so lig as moontlik te hou. Hy gaan op die goedheid van ander vir slaapgoed staatmaak. (Stof tot nadenke wat sou maak dat ons drie jaar later terugkeer om die camino weer te stap en hierdie keer in St. Jean Pied de Port te begin. Dankie Jean, waar jy ook al mag wees!)

Van Pamplona af haal ons die bus tot in Roncesvalles. Altesaam drie dae se reis voordat ons in die pad kan val.

Die refugio in Roncesvalles is ‘n abdy waar die monikke hulle reeds sedert 1209 oor pelgrims ontferm. Ons kry camino-paspoorte en ook ons eerste stempels. (Die paspoorte word onder andere by refugios langs die pad gestempel om op die ou einde as bewys te dien dat jy die hele afstand afgelê het.)

Slaapplek is op die vyfde vloer. Ons word ook touwys gemaak oor waar om te eet of kos te koop en hoe laat almal soggens uit die gebou moet wees. Met ‘n waarskuwing oor die onvoorspelbaarheid van die weer in hierdie geweste.

Ek verkyk my aan die ou houtbalke bo my ysterkateltjie. Ons bure is ‘n Fransman en sy vrou. En ‘n ou met ‘n rondebolkeil.

Ons moes seker effens verskrik gelyk het, want ‘n ander peregrino staan nader en verduidelik die eerste ongeskrewe reël van die camino. As jou slaapsak nie op jou bed is nie, beteken dit die bed gaan nie lank joune wees nie.

Agt-uur woon ons die mis by wat spesiaal vir pelgrims gehou word. My enigste ervaring van Rooms-Katolieke dienste is die paar keer wat ek saam met Greeba en Rory na hul gemeente in Somerset-Wes is. Of toe Ma my as klein dogtertjie elke jaar in aanloop tot Kersfees na The Pines op Worcester geneem het om vir suster Gueslina, wat by my geboorte was, ‘n pakkie droplekkers te neem en te wys hoe groot ek geword het.

Dan het ons in die klooster se klein sitkamertjie gesit. Ek het my verwonder aan die advent-toneel voor die kaggel en gewag om die sagte gefladder van suster Gueslina se kleed te hoor soos sy gang-af kom.

Suster Gueslina was vir my die vergestalting van ‘n engel. Jy wou net langs haar staan, vir altyd. Selfs al was sy nie blink nie of het sy nie vlerke en ‘n stralekrans gehad nie.

Wanneer sy later die groot houtdeure agter my en Ma toemaak en ons tussen die twee Norfolk-denne by die hek uitstap, vertel Ma suster Gueslina het nie geld om haar geliefkoosde droplekkers te koop nie. Haar hart is anders as ander mense s’n, daarom werk sy nie vir geld nie.  

Buite ritsel die wind deur die reuse dennebome. “Hier is jy nou omdat jy ‘n bevlieging gekry het oor ‘n berig in ‘n streekskoerant,” sê ‘n stemmetjie in my kop. “Pure sotterny!” haal hy my formidabele matriek Afrikaans-onderwyser, Tommy Ross, aan. 

Ek dwing my gedagtes terug na die mis en die vreemde gesigte rondom my. Aanvaar dankbaar en onbeholpe die broderige koekie by die priester en maak die teken van die kruis soos Greeba my geleer het.

Vir die eerste keer ontvang ek die pelgrimseën. Rondom my is ook mense wat reeds honderde kilometer agter die rug het. As ek daaraan dink, voel ek soos ‘n eerstejaar wat nuut op kampus is.

Ná die mis gaan eet ons iets in die hotel se kroegie en kom agter dat Spaanse kroegies die hele dorp se kuierplek is. Bejaardes speel kaart. Kinders hardloop tussen die tafels rond. Hierdie mense en hul voorgeslagte is reeds eeue lank deel van die camino se lief en leed. Tot so ‘n mate dat kerkklokke op stormagtige dae gelui word om pelgrims te help koers hou.

Op ‘n vreemde manier voel ek veilig tussen volslae vreemdelinge.
    
✝️ Dick Honing is twee jaar gelede oorlede.

“Dankie Meneer, vir die manier waarop jy my ruimte gegee het om my skryf- en reisdrome uit te leef. Ek sal dit nooit vergeet nie.”  

 

*Gifts of the Spirit: Living the Wisdom of the Great Religious Traditions. 1997. HarperCollins Publishers, New York.