Brokkies

21 Junie 2020

Stapdag 7: Los Arcos tot Logroῆo – 28,5 km

Die oggend begin met die mooiste roete oor Los Arcos se brug. Honderde eende wat weerskante van my die Maandagoggend snaterend verwelkom. Dis ‘n geklap van vlerke en ‘n gejakker van die eerste water. Al het ek so pas in die pad geval, kan ek nie anders as om eers te vertoef nie. 

Ons stap al ‘n ruk lank oor Baskiese grondgebied. Julie het ‘n silwer kruisie wat simbolies van hierdie wêreld is met die tekens van vuur, water, grond en lug. Ek herken dit in traliewerk en op embleme.

Dit laat my so aan Meksiko se inheemse mense dink. Toe die Spanjaarde die eerste keer voet aan wal in Meksiko sit, het hulle gedink die inheemse bevolking is gekersten. Oral was kruise – hul simbool van die koringaar en oorvloed.

Nadat ek tyd saam met die Indiane van San Christobal de las Casas en Chamula deurgebring het, het hul kruise op soveel nuwe maniere in my hart ingebrand.

Niks wat ‘n mens tydens ‘n reis sien, hoor of beleef gaan ooit verlore nie. Selfs al word dit in die heel agterste stoorkamer van my geheue gebêre. Iewers, op ‘n tydstip wat ek dit die minste verwag, tree dit na vore om ‘n nuwe ervaring se prent te help inkleur.     

Hier stap ek in die land van die mense wat die Meksikaanse Indiane op die wreedste moontlike maniere probeer onderwerp het – in die naam van die kerk. Kerke waarin ek so gereeld kersies brand.

Daar is ‘n plek waar ek ophou om te probeer verstaan. Vir eers. En net aanhou stap. Of dit nou op die camino is of by die huis.

Ek besef ook hoe nuusberigte my gekondisioneer het. Ek het die woord “Baskies” tot dusver met opstandigheid en bomaanvalle vereenselwig. Nie met ou ooms met swart barette wat op dorpspleine sit en gesels nie. 

Dis in hierdie wêreld waar Charlemagne vir prins Furré van gister se Monjardín-kasteel die loef afgesteek het. Net om van Puenta la Reina af verder te marsjeer en swaarde met Ferragut in Nájera te kruis. Duisende manskappe aan beide kante het gesneuwel.

‘n Legende lui dat Charlemagne voor die geveg wysheid gevra het om te weet watter soldate sou sterf. Terwyl hulle besig was om hul gevegsmonderings aan te trek, het ‘n gloeiende kruis op 150 se rûe verskyn. Charlemagne het die gemerktes beveel om in die kamp agter te bly. Toe hy en sy manskappe na die geveg terugkeer, was almal dood. Hulle het op ‘n onverklaarbare manier gesterf. 

Al hierdie stories danksy Michael en Tracy se Complete Cultural Handbook wat ek nou en dan kan leen. Wanneer ek by die huis kom, is dit die heel eerste boek wat ek koop.

Ek pluk vroegoggend ‘n olyftak en dra dit aan my rugsak. Ons stap in reën. Groot donderweerdruppels na gisternag se donderslae. Dit word later ‘n sagte, deurdringende reën. My bloupers blomme groei nou die wêreld vol.

Ons besluit om verder te stap nadat ons die 19 km na Viana baie gou afgelê het. Ná 1-uur lê die hele middag nog voor. Ons druk deur Legroῆo toe.

Vandag moes ons weer genoeg water saamdra. Nes gister is die skaduwee min, behalwe klompies-klompies dennebome. Die natuurlike grasvelde van Navarre begin geleidelik plek maak vir die wingerde van La Rioja. 

Vanaand se blyplek is ‘n mooi, trotse herberg met ‘n binneplaas en fonteintjie in die skaduwee van lang spiresse. Die hospitalero is ‘n bejaarde man. Ons slaap saam met 20 ander peregrino’s in die soldervertrek. Gelukkig het my bed nie goggas soos gisteraand nie.

Ja, die “eksklusiewe” slaapplek het weeluise gehad. Ná ‘n rukkie se lê het ek opgevlieg en ‘n matras in die gang opgespoor wat genadiglik sonder inwoners was. So ver as wat ek vandag gestap het, het ek my verbeel die goggas stap saam.

Eergisternag het ek Estella se parmantige haan geniet. Hy het sommer kort-kort van hom laat hoor. Vir ‘n kort rukkie was ek weer ‘n dogtertjie in Greenwoodlaan 28, Worcester. Ek slaap in ouma-hulle se lekker sagte bed in die agterkamer met die buurt se hane wat oor en weer praatjies maak.  

Toe ek vanoggend opstaan, is dit bewolk en koel. Ek vertrou dat dit so sal bly, want die son kou my. Tot dusver kon ons hier en daar amandels, vye en druiwe langs die pad pluk. Soet kleinkorrel-trosse.

Gisteraand het ons in ‘n plekkie geëet wat druk deur die plaaslike inwoners besoek is. Ensalata mixta (mengelslaai) vir my en ‘n stukkie beesvleis, tjips en geroosterde soetrissies. B eet sosatie van rib, spek, kaas en tjips. Ons drink wyn en eet brood. Gaan slaap vroeg, maar tevrede. Die gô is behoorlik uit.

21 Junie 2020

‘n Paar weke nadat ek besluit het om die camino te stap, het ek ‘n tweede gaatjie in my regteroor laat skiet. Iets wat ek nog nooit regtig oorweeg het nie. Maar ek het iets nodig gehad – ‘n tasbare bewys van my commitment – nie iets wat ek kan verloor of verlê nie. Iets wat ek aan my lyf dra. Iets wat ek elke keer sien as ek in die spieël kyk en herinner aan my besluit – al lyk dit ook hóé onmoontlik.

Ek dra steeds elke dag dieselfde piepklein goue knopie wat daardie dag ingeskiet is. Dis een van my heel kosbaarste besittings.   

Die klein oorbelletjie het twee keer saam met my oor die breedte van Noord-Spanje gestap. Daarna is dit nog elke dag die stil getuie van vele gebeurtenisse soos ek die camino van my lewe dag tot dag voortsit.

Net voor die tweede camino het ek en B oorweeg om ons hare af te skeer. B het deurgedruk. Ek het min of meer by ‘n skaflike nr. 3 gehou. Min wetende dat ek ‘n paar jaar later gereeld by die Barber Shop sou gaan inloer sodat my chemo-fluff afgeskeer kan word. (Die bejaarde Italiaanse barbier het dit met liefde gratis gedoen terwyl die dameshaarsalon R280 gevra het.) In ruil daarvoor het ek gereeld vir sy vrou blomme uit die tuin geneem.

So het my goue knopie deel van ‘n heel ander camino geword. Een van suiwer Genade, wyd kyk en ongekende vreugde op die mees onverwagte plekke.

En hier is ek nou op ‘n Maandagoggend in my studeerkamer onder ‘n skildery van wapperende wit wasgoed in Galiçia – waarop ek my hart ‘n paar jaar gelede op Worcester, my geboortedorp, verloor het.

Maar sy rare storie vertel ek ‘n volgende keer.

Buen Camino!