Brokkies

22-24 Mei 2019: In die hart van die Oos-Kaap!

Wendy en Lapa se streeksverteenwoordiger, Kathie Viljoen, kuier heerlik op ‘n skoletoer in die Oos-Kaap. Wendy help kinders ontdek dat elke mens ‘n storie het. Net soos elke familie, straat, dorp en land. Hoe meer jy lees en hoe meer jy luister, hoe meer stories het jy om te vertel. Begin sommer by oupa en ouma. Hulle is ‘n skatkis van stories.

Helde van Suid-Afrika is ‘n wenner. Wendy help kinders ontdek dat jy nie slim of ryk of oulik moet wees om ‘n held te wees nie. Jy is klaar spesiaal genoeg. As jy nie maklik tou opgooi nie en bereid is om onwrikbaar vir die waarheid te staan, is jy klaar ‘n held!

Despatch Voorbereidingskool, Laerskool Frans Conradie, Laerskool Kirkwoord, Laerskool Volkskool op Graaff-Reinet, Cradock Voorbereidingskool, Laerskool Cradock en Laerskool Gill op Somerset-Oos, julle het my battery met lieflike herinneringe gelaai om weer ‘n hond uit ‘n bos te skryf.

My hart het na dese ook ‘n ekstra kompartement vir veral die onderwyseresse en vrouehoofde wat hul taak dikwels onder uitdagende omstandighede met soveel liefde en toewyding verrig.

Al was die program propvol, kon ek en Kathie daarin slaag om by ‘n tweedehandse winkel op Cradock in te glip … om ‘n engel van baie lank gelede te koop.

Sy is nou ‘n volwaardige (Oos-Kaapse) inwoner van my studeerkamer!