Brokkies

22 Oktober 2020

Stapdag 17: “You won’t be allowed to continue unless you eat a biscuit!”😊

León na Villadangos del Páramo (22 km)

Vandag se stap het nie noemenswaardige opdraandes of afdraandes nie. ‘n Lekker koel luggie waai die heeltyd reg van voor.

My gedagtes het die stappery gemis. Ook die byna hipnotiese uitwerking wat my voetval en die ritme van my stapstokke op my het.

Ek is bly om weer in die pad te val. Bly om weer in my eie kokon te wees. Terug in daardie Camino-ruimte waar ‘n mens niks verwag nie omdat jy werklik nie weet nie, net hang aan die oomblik en kinderlik vertrou dat die dag goeie dinge sal oplewer.

Ons lê die afstand vinniger af as wat ons verwag het en stop twee keer vir koffie, Fanta en warm sjokolade.

Ek skryf uit Stavros se gidsboek neer: “Deeper than all ideas of God is God himself – we seek to be with God – not think, but be – childlike, enter the eternal silence of God – lose ourselves and be absorbed in God.

Die munisipale refugio is ‘n vriendelike plek. Middagete is ‘n plaaslike visgereg. Laatmiddag stap ek om vrugte en vars eiers by ‘n vrugtelorrie te koop. Die ander kliënte is meestal bejaardes.

Toe ek en die eienaar sukkel om mekaar te verstaan, neem die tannies oor. Hulle praat en beduie en handel amper die transaksie namens hom af. Ek kry ook ‘n soort spanspek op die huis – of is dit die lorrie?

Môreoggend gaan daar gekookte Villadangos-eiers vir padkos wees.

Ons het vandag twee priesters in hul lang jurke raakgeloop wat die Camino stap. ‘n Paar kilometer verder het hulle plat in die grondspoor van die smal paadjie gesit en koekies eet.

Toe ons wil verbystap, versper een die pad met sy stapstok.

Die gebaar het my nogal onverhoeds betrap. “You won’t be allowed to continue unless you eat a biscuit!” was die voorwaarde.

Nadat ons elkeen ‘n koekie geëet en ‘n bietjie gesels het, is die ‘versperring’ gelig en is ons met ‘n “God bless you” deurgelaat.  

Dit was ‘n lekker verrassing om die twee vanaand by die mis raak te loop. Die een het die diens help lei en die Camino blessing oor ons pelgrims uitgespreek.

Vanoggend was dit bitter koud. Die ryp het spierwit langs die pad gelê. My bene was potblou. Toe die sonnetjie eers uitkom, het dit beter gegaan. Enigiets op wiele maak sulke yskoue windvlae.    

Waar sal die klomp wees wat saam met ons verjaardag in die skaduwee van die hooimied gehou het?

Elke keer as ons nog ‘n keer om die mied gedans het, het ‘n volgende peregrino met Lekker verjaar in sy eie taal ingeval.

Ons het uitgelate aan die skadukant van die mied tot stilstand gekom. Niek se wange het gegloei. Die klimoprank het skeef gehang.

Rondom ons het ‘n stofwolk tydsaam terug grond toe gepoeier.

Niek het sy stapstok met gesag tussen die los strooi geplant.

“Ek verklaar vandag as die present!” het hy plegtig verklaar en die stok uitasem soos ‘n septer omhoog gelig. 

“Julle Nederlanders is almal gek,” het Eileen van haar laat hoor.

“Laat die man klaar praat,” het Adeleine vir Niek in die bresse getree.

Meteens was dit nog stiller as tevore. Net die strooi wat ritsel soos ek terugleun teen ‘n baal.

Niek het skielik effens verleë gelyk.

Hy het ongesiens met ‘n wysvinger beduie asof hy iets probeer uitmaak het en half vir homself gesê: “Gister is geskiedenis … môre is nog ‘n geheim … maar vandag is ‘n geskenk,” terwyl hy doelgerig sy kop met elke woord knik om seker te maak dat hy dit op die regte plek in die aanhaling neersit.

Hy het triomfantlik geëindig met: “Daarom word dit die present genoem!”

Toe gaan sit hy.

Oor sy skouer het ek al die koringgerwe wat nog ooit op daardie land geoes is, eerbiedig in gelid sien buig.

 

*’n Deel van hierdie plasing het in Landbou Weekblad verskyn.

Foto: Adobe Stock Image

** Wendy se Camino-dagboek kan ook op haar fb-skrywersblad gevolg word: www.facebook.com/WendyMaartensSkrywersblad