Brokkies

23 Julie 2020

Stapdag 10: Nájera tot Santo Domingo de la Calzada (21 km)

Van die een dorpsfees na die volgende!

Ek is in Santo Domingo de la Calzada. In Cervezeria Titanic. (Ek kan nie aan ‘n gepaste Afrikaanse woord vir Cervezeria dink nie, maar cerveza beteken bier.)

Almal in dié klein plekkie praat gelyk. Dit dreun en druis en die sjef skarrel rond terwyl hy bestellings bo die joligheid uitroep. ‘n Mens kan sien hy is in sy element.

Dis Donderdagmiddag half-drie in Spanje en almal is in die strate. Al die winkels is toe, behalwe die eetplekke waar families saamtrek. Almal eet seekos en drink bier, wyn of iets wat soos port lyk met ‘n suurlemoenskyfie in. Niemand stel belang in werk nie. Alles maak buitendien elke dag tussen 2 en 5 toe. Wat is dan nou lekkerder as ‘n fiësta of ‘n siësta?

Elke liewe dorpenaar is in sy Sondagklere met ‘n plakker van die dorp se beskermheilige voor die bors. Die dogtertjies lyk soos prentjies op ‘n outydse koekblik – gesmokte valletjierokke met groot strikke op die rug, lang wit sokkies en die hare los. Regte dogtertjie-dogtertjies wat weet hulle lyk mooi.

Die orkes het rooi polka dothemde en spierwit langbroeke aan. Waar is Randall Wicomb met sy “Dit wit broek sit nie nice nie”?

Vroeër die middag was ons net betyds vir die optog.

Toe die orkes met ‘n weemoedige mars wegval, het ek eers gedink ek het in ‘n begrafnisstoet beland. Dit gebeur soms.  

Hoe kleiner die dorpie, hoe makliker reik die dorpenaars uit in hul hartseer en vreugde. Só word ‘n mens soms onverwags deel van ‘n begrafnis of bruilof – omdat jy dáár is en omdat jy mens is.

Sulke tye kan ek nie help om te wonder waarom die Vader my juis in mý familie, in mý geboortedorp neergesit het nie. Wat het hom verhoed om my in Spanje of Lesotho, Rusland of Kazakstan neer te sit? 

Die hoogwaardigheidsbekleërs het pakke aan en dra ryklik geborduurde vlae. Hulle word gelei deur ‘n knapie in ‘n wit kerkjurk met ‘n groot silwer kruis.

Op hul hakke volg ‘n groep mans wat ‘n beeld van Santo Domingo skouerhoogte op ‘n soort draagbaar dra. Die beeld is omring deur gerwe gladioli. 

Almal stap in gelid.

Na ‘n ruk slaan die orkes oor na vroliker musiek. Die dansers in tradisionele drag is tienerseuns, maar glad nie skaam om met linte om die enkels, tjalies en kastanjette hul passies te wys nie.

Die inwoners is so sigbaar trots op hul tradisies dat dit my aangedaan maak. Ek wens ek het ‘n T-hemp vir die okkasie gehad met die Suid-Afrikaanse vlag op. Die vlaggie wat ek teen die kant van my rugsak vasgewerk het, is te klein vir die gevoel in my hart.

Ons het tot dusver net meer as 200 km gestap. My geloof in die mensdom se inherente goedheid word daagliks versterk. Ek het soveel respek vir die Spanjaarde se kultuur, rustigheid, opregte belangstelling in hul medemens en geloof.

Ek knip ‘n uiltjie en gaan koop neute, kaas, bone en brood vir aandete. Daarna lees ek oor môre se roete.

Uiteindelik maak ‘n liedjie uit my skooldae sin: 

Dominic-a-nic-a-nic over land he plods along,

and sings a little song.

Never asking for reward.

He just talks about the Lord.

He just talks about the Lord!

 

Juffrou Anna Erasmus het soveel ellende met ons in die sangklas gehad. Dit sou haar vreugde gee om te weet ek staan in die dorp waar Dominic/Santo Domingo sy merk gemaak het.  

Hy is in 1019 gebore en was ‘n skaapwagter voordat hy besluit het om ‘n monnik te word. Maar dit het só sleg met sy studies gegaan dat hy afgekeur is.

Santo Domingo het hom nie van stryk laat bring nie. Hy het in 1034 ‘n kluisenaar in die woude langs die Ojarivier geword en ‘n lewe van diensbaarheid begin.

Vóór die 11de eeu het die Camino wes van Nájera deur digte woude en moerasse gekronkel. Aanvalle deur struikrowers was aan die orde van die dag. Dis híér waar Santo Domingo aan die werk gespring het om dit uiteindelik een van die veiligste dele van die roete te maak.

Sy eerste taak was om ‘n klipbrug oor die Oja te bou. Daarna het hy 37 kilometer deur die woude oopgekap. (Legendes vertel dat engele namens hom gewerk het as hy gestop het om te bid.)

Uiteindelik het die koning vir Santo Domingo ‘n ou fort gegee waarin hy pelgrims kon versorg. So het die dorp Santo Domingo de la Calzada ontstaan.

Santo Domingo het nog brûe en ‘n kerk saam met sy dissipel, Juan de Ortega, gebou voordat hy in 1109 oorlede en in die kerk begrawe is.   

Die mooiste deel van die verhaal is dat hy tot heilige verklaar is – wat heel moontlik nie sou gebeur het as hy tot die priesterdom toegelaat is om die gewone dinge te doen wat ‘n priester doen nie.

Vroegaand word die fees op die plein voor die refugio voortgesit. Die dorpsorkes kry ‘n blaaskans. ‘n Orkes wat uit ‘n soort doedelsak, kitaar, viool, trom, verskillende blokfluite en ‘n dwarsfluit bestaan, neem oor. Die musiek het ‘n sterk Keltiese klank.

Die dorpenaars staan almal in lang rye en wag vir ‘n stukkie wors en brood – dis tradisie. Honderde van hulle. Ons word ook genooi. In so ‘n lang ry vind jy baie meer uit oor ‘n land se mense as in enige gidsboek.

‘n Glaskruik met ‘n lang steel waarmee jy die wyn letterlik in jou mond spuit, word aangestuur. B. is heel behendig, maar ek spuit die straal los oor my skouer!

Teen hierdie tyd het ons min of meer ‘n Camino-roetine wat onder andere beteken dat ons soggens eers ‘n paar stewige kilometer agter die rug probeer sit op pad na die dorpie waar ons beoog om te oornag. (Dis nie te sê jy gaan dit haal nie en indien jy dit haal, is jy nie verseker van slaapplek nie. Daarom dra elkeen ‘n jogamatjie saam as daar op ‘n stoep of iewers in die veld geslaap moet word.)

Ons is meestal teen 2-uur die middag op die bestemde dorp. Tensy die dag so lekker draf, dat ‘n mens sommer net wil aanhou.

O, daardie dae as jy hoog is op stap! Jou gedagtes stap vooruit en jou voete vlieg agterna. Dis dan wanneer jy verstaan dat elke mens op die aardbol ‘n natuurlike stapritme soos ‘n vingerafdruk het. Dis nét jou ritme – en moet jy vinniger of stadiger stap, verloor jy daardie ritme soos ‘n instrument wat noot verloor én die euforie wat daarmee saamgaan.

(Ek het nog altyd gedink die hemel is in ‘n biblioteek. Maar ná die Camino is ek nie so seker nie. Dalk is die hemel ‘n plek waar ‘n mens na hartelus enige plek vrou-alleen in die veld kan stap sonder om oor jou skouer te kyk … mét ‘n boek in die hand.) ❤️