Brokkies

23 September 2020

Dag 16: Soms moet ‘n mens tot stilstand kom en ‘n ding behoorlik bedink.

Uno mas por favor? (Nog een, asseblief?) vra ek en stap na die donker figuur agter die orrel wie se vae buitelyne in die skemerte sigbaar is.

Die klanke van Ave Maria kom soos ‘n sagte reënbui vanaf die orrelpype teen die oorkantste muur na my toe aangesweef. Ave Maria, gratia plenta. Die laaste note sterf langsaam weg.

Die monnik kyk op. “Ek is Bernard,” sê hy.

Ek verstaan net ‘n klein bietjie Spaans; hy net ‘n klein bietjie Engels. Ons ruil ‘n paar Franse sinne. Verder meng ons die drie dat dit klink asof die toring van Babel van nuuts af gebou word.

Ek word breedvoerig oor ons pelgrimsroete uitgevra. Tussenin speel hy van sy eie komposisies en maak ‘n paar draaie, wat vir my na ‘n jazz-inslag klink, op die orrel.

Dit word tyd om te gaan. Die monnik neem my hande in syne. “You are a good person. I will pray for you. You will always be my friend.”

Toe ek na ons piekniekplekkie onder die boom terugstap, is dit skemer. Die voëls is al stil. Net nou en dan hoor jy die laaste vlerkgeklap van ‘n duif wat slaapplek kry vir die nag.

Daardie aand, toe ons die laaste dreunsang, Completas, bywoon, lê my krans steeds teen die altaar. In die flikkerende kerslig skyn die vrolike veldblommetjies diepgeel. Ek hoor hoe Frére Bernard die orrel oopskuif en ek sê dankie, dankie, dankie.

Ons gaan eet aandete in ‘n onbekende plekkie op die plein en geniet die kelner se flinke Engels. Op die spyskaart is slaai, ‘n lamsvleisgereg en ‘n plaaslike lekkerny van maaskaas en heuning as nagereg. 

Die volgende oggend is die halfnege-bus na Burgos vol vrolike bejaardes wat inkopies gaan doen.

Ons wag lank op ‘n aansluiting na León.

 

Ek draai Greeba se woorde om en om in my gedagtes: “There is nothing between Burgos and León. Take the bus!”.

Daar is inderdaad net omgeploegde koringlande en menige dorpies kruip ver van mekaar af in skeurvalleie weg met net ‘n kerktoring wat uitsteek as aanduiding dat daar iewers op die stowwerige horison lewe is. 

Ek kan altyd op my vriendin se raad reken, maar soms moet ‘n mens tot stilstand kom en ‘n ding behoorlik bedink. Lank genoeg om ook jou eie binnestem behoorlik te hoor. En dít het ek nie gedoen nie.

Toe die bus die buitewyke van Burgos uitry en ons die eerste peregrino’s agterlaat wat die groot stuk niemandsland aandurf, wil ek opspring en die bestuurder vra om te stop.

Ek wil met elke vesel in my lyf uitklim en in die pad val.

Iewers daarvoor moet ek verder stap en heeltyd gaan ‘n ongedane Maseta agter my in die pad lê en aanhoudend my naam roep.

Ek móét terugkom en elke liewe tree stap van St. Jean Pied de Port tot in Santiago de Compostella.

 

** Wendy se Camino-dagboek kan ook op haar fb-skrywersblad gevolg word: www.facebook.com/WendyMaartensSkrywersblad