Brokkies

24 April 2020

24 April 2020: Ek het die radio vanaand vroeg afgeskakel. Dit was ‘n bedrywige dag met skryf en admin deurmekaar.

Party dae het ‘n manier om heeltemal anders te verloop as wat ek so mooitjies die vorige aand beplan het. Reeds vroeg kry hy ‘n loop van sy eie, nes ‘n stroom leiwater.

Aanvanklik probeer ek walle spit en afkeer vir ‘n vale om my mooie plan van gisteraand in stand te hou. En iewers tussen al die spittery deur hoor ek Marriana Booyens, my kunsonderwyseres van baie jare, se stem helder en duidelik:

“Moenie so precious met jul darlings wees nie!”

Ek ruik die byewas en terpentyn terwyl sy met mening ‘n mengsel bo-oor die “darling”-deel van my skildery aansmeer. “Kyk, so! En dan vryf jy dit só af … “

Ek is om die minste te sê verbouereerd oor die berekende verwoesting wat hier reg voor my oë gebeur. Ek wil huis toe gaan, die skildery langs die pad iewers in die veld gooi en onder die bed gaan lê.

En dan, tussen die vrywery en die terpentyndampe deur, bring haar meestershand ‘n splinternuwe dimensie uit die verwoesting na vore.

Uiteindelik kry ek die “darling”-deel van my skildery terug – net soveel mooier. “Nou kan julle self verder gaan,” moedig sy ons groepie aan wat effens verbysterd bly staan. 

Ek kyk na my skildery en besef dat ek eers bereid moes wees om daarvan afstand te doen voordat ek werklik met oorgawe daaraan kan begin werk. Al is die proses ook hoe pynlik.   

Dis dieselfde met my keerwal-spittery. Hoe gouer ek die dag se stroom leiwater toelaat om stil-stil sy eie weg te baan en geduldig die vloei te volg, hoe beter. En hoe groter is die kans dat ek aan die einde van die dag daardie tevrede gevoel van ‘n “job well-done” sal beleef.

Op die camino is daar nie werk nie.

Jou werk is om te stap.

Dag in en dag uit.

 

As iemand my voor die tyd sou vertel dat stap en alles rondom stap die dae kan opslurp, sou ek dit nie glo nie.

Party peregrino’s verkies om in die na-nag te begin stap – tot so vroeg as 3:30. Hulle stap elke dag lang afstande. Maklik tot 45 kilometer. Die kans dat jy daardie persoon weer iewers gaan raakloop is baie skraal.

Wanneer almal begin roer, is hulle lankal weg. Hulle vroetel ook nie in die donker in plastieksakke soos ons gewone pleps nie. Hierdie kaliber pelgrim beweeg geruisloos – of so het ek hulle ervaar.

Dan is daar die groep wat opstaan sodra dit lig word en heel fluks in die pad val. En laastens die groep wat kuier-kuier ontwaak, opstaan en in die pad val net voordat die refugio se deure sluit om gereed te maak vir die volgende klomp wat vroegmiddag opdaag.

Ek het meestal in die middelste groep geval omdat ek nie baie vinnig stap nie en omdat ek nie baie fluks is om op te staan as dit koud is nie.

Die kere wat ek in die na-nag moes begin stap omdat die dag se roete baie lank of moeilik sou wees, was ‘n geskenk. ‘n Mens kry nie aldag kans om kilometers deur ‘n donker woud te stap met uile as geselskap nie.

Nog minder om in stilte onder die sterre te stap. Al geluid is jou voetstappe op die grondpad en die oggendluggie deur die graspolle.

Dis sulke tye dat jy die dag van ver af oor die vlakte sien aankom. Eers net ‘n dun grys strepie. So effentjies dat jy wonder of dit regtig sy is. Dan volg daar ‘n wasigheid – amper soos wanneer iemand ‘n deur op ‘n skrefie oopmaak. Jy kan nie die ligstreep sien nie, maar jy weet ‘n deur is iewers oop. 

En dan kom die kleure en die eerste voëltjies.

In die stad gebeur dagbreek vinnig. Dis donker, skemer en dan lig. Maar nie in die veld nie. Hier kry die woord “dagbreek” ‘n heel nuwe betekenis. Jy sien en hoor haar oopbreek en stadig oor jou spoel asof jy die enigste mens op die aardbol is vir wie die hele skouspel bedoel is.

Is dit moontlik om terselfdertyd so nietig te voel, maar ook die vaste wete te hê dat jy beslis tel? Dat jou naam iewers in ‘n baie groot Handpalm geskryf is?    

     

Stapdag 1: Roncesvalles tot Zubiri (22 km)

Die gidsboek wys vandag se roete is ‘n mengsel van opdraand en afdraand. Ons val 8:00 in die pad. Eintlik verkies ek om nie voor die tyd te weet watter verrassings die pad inhou nie. Net stap en die pad laat oopval voor my voete. As daar ‘n stywe klim voorlê, ook nie die kruin dop te hou nie. Net my voete. Een tree op ‘n slag.

Maar die eerste paar kilometer is sag op my sintuie. Mos, sampioene en varings. Bospad soos by Knysna. Perfekte spinnerakke die hele wêreld vol. Hul draadjies hang soos juwele vol druppels dou. In die winter is die bergroete wat ek nou stap onbegaanbaar. Steeds is dit vol modder en poele en plek-plek baie glad.

Ek vertoef lank by ‘n sampioenstadjie. ‘n Paar honderd sampioene van alle groottes groei om ‘n afgekapte boomstomp. Ek moet myself dwing om verder te stap. ‘n Mens wil net kyk en kyk en kyk.

By Espinal is dit tyd vir ontbyt – ‘n kaasbroodjie en café con leche.

Ons loop ‘n Amerikaner raak met ‘n tweewiel-karretjie wat om haar lyf vasgemaak is waarop sy haar rugsak trek. Sy sukkel om deur die hekke in die weivelde te kom. Ek help een of twee keer, maar hou dan verby.

Die pad is nou baie ongelyk. Ek koop ‘n houtwandelstok by ‘n bejaarde boer. Dit help baie en neem die gewig van my heupe af.

(Op hierdie stadium het ek nog nie pelgrims met twee stapstokke teëgekom nie. Om die waarheid te sê, ek het nog glad nie van iets soos Nordic walking gehoor nie. En sou uit pure onkunde uitbars van die lag toe ek die eerste keer iemand raakloop wat wel met twee stapstokke stap. Ek is nou nog skaam. Daarom glimlag ek maar net geduldig wanneer iemand soms op my daaglikse roete seelangs wil weet: “Where is the snow?”)

Ek sien vir die eerste keer regte mistletoe. En die rooiborsies wat ons altyd as kinders op kerskaartjies gesien het. Nooit besef mistletoe word ‘n groot boom nie. 

Ek loop die Franse nog ‘n paar keer raak. Wonder wat van die peregrino met die rondebolkeil geword het? Maar daar is weer soveel ander peregrinos en hul stories in die skool se opslaanklaskamers wat vannag huis is.

Ek verluister my aan al die tale en kom min of meer oor die weg met ‘n mengsel van baie basiese Frans en die bietjie Spaans wat ons uit Meksiko onthou. Tog verstaan almal mekaar op een of ander wonderbaarlike manier.

“More is ‘n nuwe dag,” soos Ma altyd gesê het.

 

Hieronder ‘n kaart van die Camino. Met dank aan Wikipedia.