Brokkies

24 Augustus 2020

Ek het op die vooraand van grendeltyd my Camino-dagboeke uitgehaal. Kom stap saam met my op hierdie andersoortige reis. 

Stapdag 13: St. Juan de Ortega na Burgos (28 km)

Vroeg opstaan! Dis nog donker en reën saggies. In my broeksak is die blou porseleinskerfie wat ek in die oop stuk veld aan die agterkant van Ortega se abdy opgetel het.

Gistermiddag was ek die enigste pelgrim wat om die groot gebou gestap het. Aan die agterkant was alles doodstil – asof dit lank gelede so bestem was. Op ‘n manier was die blou porseleinskerfie, wat ek tussen die lang gras opgetel het, ‘n bevestiging.   

Gister se eikewoude het heelnag stil in gelid in my drome gestaan. Paddastoele, varings, mos en oumansbaard. Ek is tevrede. Iets in my binneste herken ‘n voorwete dat ons vroue gatherers is – gemaak om sorgvry veldvrugte te pluk en eet – met die wind in jou kuif en rooiborsies wat oor jou spore speel. Ek wéét dit in my murg, elke keer as ek by ‘n braambos stop om van die blinkryp vruggies te eet.    

Hoe gelukkig was ons nie om gisteraand se uitvoering van Middeleeuse musiek te kon beleef nie. Daar is iets aan die Keltiese musiek van hierdie streek, veral die amper oosterse klank uit ‘n snaarinstrument met ‘n boeppensie. 

Gisteraand was ook die eerste keer dat ek Spaanse bloedwors saam met bier probeer het. Bloedwors was nog nooit ‘n gunstelinggedagte nie, maar ek het ten minste probeer. Die abdyhond het my met die laaste stukkie gehelp.   

Vanoggend se stap-in-die-donker is nie net ‘n uitdaging nie. Om geel pyle met ‘n flitsie in ‘n donker woud in die reën te probeer opspoor is sommer net plein dom. Ons ploeg deur modderplasse met reënjasse wat om ons bene flap-flap. Ek dink aan X-files en al die ongediertes wat Fox en Scully al in donker woude moes gaan soek.

Dít moes ek nooit gedoen het nie.

Kort voor lank moet B. agter stap sodat die onheile my nie van agter kan bekruip nie. (Om een of ander rede verbeel ek my die agterste ou word altyd eerste gevang.) Maar dan is daar weer ‘n kans dat ek van voor af ingewag kan word! 😊

Dankie tog vir my stapstokke anders het ek lankal met rugsak en al in ‘n modderplas geval.

Ons besluit om by die eerste beste dorpie ontbyt te eet, maar alles is vroeg op ‘n Sondagoggend toe. Eers by die derde dorpie, 14 km later, is ‘n klein bakkery oop.

Ek haal my rugsak af en sit en kyk hoe die bejaarde bakker in ‘n sykamer van sy huis werskaf om lang brode met ‘n spaan uit ‘n oond te haal.

Wie kon nou vir beter vra?

Ons ontmoet ook vir Jamilla (die perd) en haar ruiter wat die Camino op hul eie manier aflê. Hy koop ‘n lang franse brood om stuk-stuk vir haar te voer.

Teen die volgende heuwel loop ons ‘n peregrino raak wat tot die besef probeer kom dat hy moet tou opgooi. Hy loop heeltemal mank.

‘n Ruk later kom ‘n taxi verby. Hy wuif weemoedig deur die agterste ruit. Al wat ek kan doen is om in die middel van die pad te gaan staan en so woes met my stapstokke te wuif as wat ek kan. Ek wil sommer vir sy part huil.

Burgos: Na ‘n lang, lang dag boek ons by die refugio aan die anderkant van die stad in. Dit bestaan uit drie groot houthutte in ‘n groot park. Die hospitalero het ‘n wit en grys kat wat saam met haar in haar kamer bly. Ek voel sommer tuis!

Op pad na ontvangs loop ons vir Stavros, die Griekse Amerikaner, raak. Ons het hom laas gesien toe hy besig was om die 2l-koeldrankbottel, wat hy as waterbottel gebruik, onder ‘n kraan te probeer invou. Dit was iewers anderkant Najera. En hier is hy weer. Net so bly om ons te sien soos ons vir hom.  

Môre haal ons die bus Silos toe. Dis Santo Domingo de los Silos se monnikke wat trefferlyste en hulself in die 90’s onkant betrap het toe hul Middeleeuse dreunsang eensklaps wêreldwyd opslae begin maak het.

Silos is nie deel van die Camino nie, maar Rory en Greeba kon nie uitgepraat raak nie.  

Hoe sou hierdie modderige peregrino ooit kon raai watter verrassing daar op haar wag?  

 

 

** Wendy se Camino-dagboek kan ook op haar fb-skrywersblad gevolg word: www.facebook.com/WendyMaartensSkrywersblad