Brokkies

24 Mei 2020

24 Mei 2020: Elke keer as President Ramaphosa sy toespraak afsluit met: “May God bless South-Africa and all her people” het ek ‘n knop in my keel. En elke keer probeer ek verstaan hoekom.

Nou, terwyl ek my camino-dagboeke herskryf, dink ek aan al die kere wat ek net so opgewonde was om huis toe te kom, as wat ek was om te vertrek.

Ek dink aan al die kere wat ek vir die eerste keer weer my voete op Suid-Afrikaanse bodem kon sit. Al die kere wat die doeane-beampte gesê het: “Welcome home!” En ek so bly was (al was ek seker die duisendste mens vir wie hy/sy dit daardie dag gesê het) dat ek myself moes keer om hulle nie te omhels nie!

Ek dink aan die keer toe ek Marokko toe is en besef het dat ‘n oseaan my nie soos gewoonlik van “huis” sou skei nie. Op ‘n vreemde manier was dit gerusstellend dat ek steeds in Afrika is. Dat ek steeds deur land, deur dieselfde grond, met “huis” verbind sou word.

Op ‘n manier het dit gehelp om te weet “if everything else fails” is dit nog steeds moontlik om huis toe te stap – hoe absurd ook al.  

Nou, met Covid-19, ervaar ek dieselfde gevoel as ek na Marosé, my  dapper apteker en haar span dophou. Ek kan sien hulle is moeg, maar hulle lewer steeds persoonlike diens en onthou presies wat jou spesifieke behoeftes is.

Ek hoef nie meer uit ‘n verre land terug te keer om bly te wees om my land se mense te sien en te hoor nie. My motor hoef maar net met ‘n pap battery voor Parklands se Clicks te gaan staan. ‘n Man met ‘n aksent uit Noord-Afrika agter sy masker en ‘n isiXhosa-veiligheidswag het my mooitjies eenkant laat staan, my jumper leads opgerol en in die sak gebêre, want “it’s too much trouble, Mama. We push the car!”

Dalk maak President Ramaphosa se woorde my hartseer omdat my land en sy mense ten spyte van die uitdagings steeds aanhou om agter hul maskers te wys waar Afrika se warm hart werklik lê.

 

Stapdag 3 (voortsetting)

Ek het vanoggend vir die eerste keer in ‘n lang ruk weer koffie in die bed gedrink. Wat ‘n heuglike gebeurtenis! Al is dit koffie in ‘n refugio-kateltjie – uit ‘n bruin melkbeker. 😊 (Daar was nie bekers in die refugio-kombuisie nie. Maar ‘n boer maak ‘n plan.)  

Vreemd hoe dankbaar ‘n mens se liggaam en gees op so ‘n klein bietjie selfvertroeteling reageer. Ek was ook sommer lus vir ‘n ‘nuwe klerekas’ en het my skoon blou t-hemp en blou sarong uit my rugsak gehaal. Dis al alternatief behalwe die kakiehemp en broek waarmee ek stap. Daarby trek ek my wolsokkies en sandale aan om my voete te laat rus. Ouma sou net haar kop skud en sê: “Pluimfina!”

Ek raak gewoond daaraan om my gesig, hare en lyf met dieselfde Dove-seep te was. Ek dink so dikwels aan my Annique-potjies in die badkamer by die huis – nou net ‘n ver en vae luuksheid. 

Dit was moeilik om nie Greta se geurige stortjel (wat sy spesiaal as geskenk met die oog op die camino gegee het) in te pak nie. Maar ‘n rugsak laat die skaal verstommend vinnig op 10 kilogram trek. En moenie eers die woord “water” noem nie. Elke letter weeg iets! 

Ek sorg dat daar altyd Quesito’s of geroosterde mieliepitte in my kantsakkie is. As my maag leeg is, is ek kragteloos. Daarom stap ek knibbel-knibbel aan die koolhidrate. ‘n Vrug help nie veel nie. B. eet net soggens en smiddae iets en saans het hy ‘n bord “regte” kos nodig. 

In hierdie land van karnivore het ek al ‘n paar keer slaai opgespoor. Eet sommer ‘n halwe kropslaai as ‘n snack.

Ons het vanoggend die verkeerde afdraai gevat. ‘n Ou tannie van kop tot tone in swart geklee kom so haastig aan as wat haar tengerige lyfie dit toelaat. Sy raas en swaai haar arms. Ek dag eers ons het iets verkeerd gedoen.

Toe ons uiteindelik besef sy wil ons help om die boonste pad te vat, bedaar sy en gaan tevrede staan.

Ons was al ‘n kilometer of wat verder, toe staan die klein figuurtjie nog teen die rand van die pad.

Na dese kan ek “arriba!” tot my Spaanse woordeskat voeg. ❤️

 

Stapdag 4: Cizur Menor na Puenta la Reina (19,5 km)

Ek het vanoggend wakker geword van erge diaree. Op die camino is jou lyf jou vervoer. Jy kan nie daarvan wegkom nie. En as daar iets met jou vervoer skort, is jy in die moeilikheid.

Op ‘n tydstip wonder ek of die grootste penarie my bedenklike toestand is of die feit dat daar net een toilet vir vroue is – waarvan ek myself nie durf wegskeur nie.

Tussen 04:00 en 05:00 het ek die badkamer vir myself, maar toe begin die res van die peregrino’s roer en die ry voor die deur dam op.

Kort nadat die eerste daglig deur die hoë venstertjie begin syfer, kan ek dit waag om terug slaapsaal toe te keer. Ek en B weet albei Alto de Perdón (Hill of pardon) se klim lê vanoggend voor, maar nie een van ons sê dit nie. Eerste dinge eerste. Ek drink twee maagpille en ‘n pil vir naarheid en kruip nog ‘n rukkie in.

Dit maak nie saak hoe oud ek is nie. As ek sleg voel, verlang ek na my eie bed en my eie mense. Na my ma en Afrikaans. As ek ‘n toilet moet omhels, wil ek dit ten minste op Suid-Afrikaanse bodem in Afrikaans doen. 

‘n Halfuur later is dit tyd om aanstaltes te maak. Ons besluit om in die pad te val sonder om ontbyt te eet en te kyk hoe die dag uitspeel. Ek stap stadig en leun baie op my stok. Eet kort-kort ‘n stukkie brood en drink baie water. Elke dorpie het ‘n fontein waar ons na hartelus kan tap.

Die eerste 6 km is ‘n geleidelike klim. Dan 3 km steil klim en 3 km afdraand. Nog twee of drie dorpies. Gelukkig is daar ‘n vending machine  in die een en kan ek ‘n Pepsi kry.

By ‘n volgende dorpie is die kroeg oop en kan ek ‘n Coke drink. Ek dink alles is nou OK. Die camino het ‘n manier om ‘n mens nederig te hou. Jy besef dat niks uit eie krag kom nie. Elke tree, elke goeie maaltyd, elke dorpie waar ‘n plekkie is om brood of ‘n vrug te koop, is genade. Ek besef ek moet nooit dink dat ek een tree op hierdie pad uit my eie krag gee nie.

Net buite Cizur Manor het ‘n reuse geitjie my pad gekruis. Hy was van kop tot die punt van sy stert so lank soos my voorarm en ‘n pragtige lemmetjiegroen. Dit was ‘n goeie teken!

Ons stap deur veld wat soos feëtjieland lyk met ‘n ou klipbrug, brame wat ek in die ruigtes pluk en eet. ‘n Haas met ‘n wit kwasstertjie hop-hop-hop verby. Op die bult omring deur ‘n ruigte bome is ‘n ou verlate vesting. Daar sit twee Duitse peregrino’s en hul hond die wêreld en bekyk. Woef stap al die pad saam. Hy het ‘n tuigie aan met sy besonderhede in ‘n klein kapsule daaraan vasgemaak. In die dorpe en stede is hy aan sy leiband. Verder hardloop hy los. ‘n Peregrino-hond!

Ons stap verby artisjoklanderye. Ek sien vir die eerste keer hoe ‘n artisjokplant regtig lyk. Amper soos ‘n reuse dissel met die artisjokke wat op stele groei. Stap ook verby aspersielanderye – die loof lyk nes my varing by die huis.

‘n Ou oom oes amandels in ‘n emmer. Hy wuif. Sy radio staan eenkant teen die stam en speel.

Die dorpies se name hou ‘n mens se tong en gedagtes besig. Cizur Menor, Cizur Major, Zariquiegui, Uterga, Muruzábal. Ook die geskiedenis en legendes waardeur ‘n mens stap.

Op pad na Zariquiegui stap ek oor die slagveld waar Charlemagne en Aigolando se krygers in ‘n bloedige geveg eeue gelede betrokke was. Vandag kan ‘n mens jou nie ‘n meer vreedsame weiland voorstel nie.

Ons loop weer die Spanjaarde raak. Hulle vertel ons van die Eunate, ‘n pragtige 12de eeuse kerkie en klooster op ‘n vlakte tussen stoppellande. Daar word steeds oor die oorsprong bespiegel. Dit beteken dat ons ‘n ompad van twee kilometer moet stap. Al is my gô teen hierdie tyd uit, wil ek baie graag die Eunate sien.       

Van die Eunate na Puenta de la Reina waar ons wil oornag is dit nog 5 km.

Die son brand en die wind kom op.

 

 

 

•Hoofprent van Santa María de Eunate. Met dank aan Wikipedia en outeur Mgoni4.