Brokkies

25 Maart 2020

25 Maart 2020. More begin die “lockdown”. Ek probeer voortgaan soos normaalweg. Vee soggens die stoep. Gee die tuinvoëls kos en maak hul waterbakke vol. Kyk watter verrassings die tuin deur die loop van die nag opgelewer het, voordat ek die rekenaar aanskakel om met my dag se werk te begin.

Gisteroggend se klein naaldekoker langs die voordeur was ‘n bonus.😊

Maar my kop bly vol doenlysies. Ek het besluit om nie kruideniersware op te gaar nie – net te koop wat nodig is en die boeke aan te skaf wat ek vir navorsing gaan nodig kry. Tog kan ek nie die gevoel afskud dat almal op pad is om eksamen te skryf, terwyl ek nog nie eers weet wat die kursus se naam is nie.

Ek probeer die onrustigheid besweer deur elke aand teen skemer ekstra tuintake te verrig, maar dit help ook nie. Tot dit my gisteraand tref. Ek het laas so gevoel voordat ek die camino gestap het.
Bang – omdat ek nie weet wat om te verwag nie. Vreemd opgewonde – omdat ek nuwe landskappe gaan verken. Afhanklik – van bakens langs die pad wat rigting gee, my medemens se goedgunstigheid, en bowenal die Vader wat ‘n spesiale plek in sy hart vir brose reisigers het.

Daarom het ek my dagboeke van 2002 en 2005 se camino’s gaan uithaal. Vreemd genoeg sien ek juis nóú vir die eerste keer kans om hulle van hoek tot kant deur te lees.
Wanneer ek ‘n intense ervaring soos die camino beleef het, probeer ek gewoonlik vir ‘n ruk daarna my dagboeke vermy. Die “ruk” het jare geword soos die kontinente van my binne-landskappe bly skuif het terwyl ek steeds die camino in my gedagtes gestap het. Soms so sekuur dat ek onverwags na my asem gesnak het. Daarom sê pelgrims dikwels: “Jy stap nie die camino nie. Die camino stap jou.”

Ek hoop dat my camino-ervarings iemand sal help om iewers aan te hou stap. Want daar breek ‘n oggend aan dat ‘n mens se lyf nie meer seer is nie, die blase aan jou voete nie meer pleisters nodig het nie, jy nie meer van jou rugsak bewus is nie en boonop met al die wolwe van lank gelede afgereken het wat dae lank snuif-snuif op jou spoor gedraf het.

Dan is dit tyd om saam met mede-peregrino’s stapstokke in die lug onbevange onder ‘n blou Spaanse hemel om ‘n hooimied te dans!

Liefde Wendy

Ns. Moenie op datums, dorpsname of afstande reken nie. Soos die bufferplakker sê: “Don’t follow me, I might be lost!”

 

Die inhoud van my rugsak is:

 

slaapsak 1 ekstra hemp
stapsandale sarong wat laken, tafeldoek en romp is
2 paar sokkies skibroek
2 paar knee highs (om onder sokkies aan te trek – darem opgerol sodat jy nie soos kiepie lyk nie😊)
sonhoed plakkies om mee te stort
klein gids met roetes polar fleece top
opblaaskussing reënponcho
sonbril oorpluisies (teen snork!)  
dagboek, pen toiletrol
onderklere chamois as handdoek

 

Inhoud toiletsakkie:

Flitsie, haakspelde om wasgoed aan my rugsak vas te speld, naelknipper, sonroom, tandeborsel en tandepaste, Dove-seep vir gesig, lyf en hare was, deodorant.

Net mooi 10 kilogram sonder die waterbottel wat ek aan ‘n band op my heup dra.

Genadiglik word die koffie, tee, stofie en piepklein stel kastrolletjies deur B gedra.

Op die flap van my rugsak, is ‘n klein Suid-Afrikaanse vlaggie. Langs die kant hang ‘n kammossel, die simbool van die camino. Dit was die pelgrim van ouds se paspoort, maar ook sy skepding om uit fonteine en riviere te drink.

Ons neem nie selfone saam nie. Net ‘n klein kamera. Sou ons mekaar verloor, het ons afgespreek om terug te keer na die laaste plek waar ons saam was en te wag. Dit het nog altyd gewerk.