Brokkies

27 Maart 2020

27 Maart 2020: Toe breek gisteraand 12-uur amptelik aan. Op ‘n manier het dit gevoel ek is weer ‘n kind wat vir kersfees wag. Dan breek kersoggend aan en jy gaan hang oor die groen tuinhekkie om pad-af te kyk of daar nie iets onder in Riebeeckstraat in aantog is waarvan almal vergeet het nie.

Die luggie het die ranker voor die kamervenster liggies geroer. My kat het haar agterbene lank uitgestrek en verder geslaap. Ek het gaan rooibostee maak en in die donker na die sekelmaan gesit en kyk.

Dis ‘n plantmaan met haar holtetjie na bo. ‘n Maan met ‘n Oop Hand vir baie blessings gee.

Vanoggend was ek skrikkerig om oor die muur langs die huis na die grootpad aan die anderkant te kyk. Sê nou ‘n hele weermag kyk vir my terug? 

Ek trek my camino-dagboeke nader. Op een se voorblad het ek in swart ink geskryf:

                  “A pilgrim is no ordinary traveller.

                   The map is in his heart.”

Tussen die bladsye val ‘n wit veer uit.

Wanneer ek terugkyk, verstom ek my oor die doodgewone alledaagsheid van elke dag op die camino. Terwyl ‘n mens stap is daar geen grootse gebeurtenisse nie. Jou grootste ambisie is om net sonder blase deur elke dag kom.

Jy raak, om eerlik te wees, deel van ‘n stroom mense wat ‘n obsessie met hul voete ontwikkel. Op die vreemdste plekke, op die vreemdste tye, loop jy peregrino’s in die vreemdste posisies raak wat met hul voete doenig is. Aan die begin is dit amusant, tot jou eerste blaas kop uitsteek en jy ‘n nederige lid van die einste sekte word.  

Verder hoop jy om elke dag ‘n pelgrimsmaaltyd by een van die kroegies of restaurantjies langs die pad te koop. En ‘n brood, chorizo en kaas vir jou rugsak se sysakkie – net in geval die dorpies verder uitmekaar is as waarop jy gereken het. 

Nog ‘n hartewens is om droog te bly. Soos jy vrede maak met die feit dat jou eintlike vreugde in die aanvaarding lê van wat oor jou pad kom, gee jy dit op – veral in Galiçia se gietende reën. Jy wil net graag aan die einde van ‘n nat, koue dag droog gaan slaap en droë klere hê om die volgende oggend aan te trek. Niks meer nie.

Nog ‘n behoefte is ‘n bekostigbare bed en stort in ‘n munisipale refugio aan die einde van elke dag. Een sonder “chinches” – weeluise. Met ‘n warm stort! 😊 Ek sal nie stry dat ‘n hele week se koue storte ‘n mens oor jou sondes laat nadink nie. 

Aanvanklik is die teenwoordigheid van soveel medepelgrims uit soveel verskillende wêrelddele “pure bliss” soos my ouma Winnie sou sê. Maar na ‘n 100 kilometer is die Wallieser met die klingelende windklok aan sy rugsak nie meer so eksentriek nie. Na 200 kilometer staan jy opsy dat hy kan verbykom of hol eenvoudig weg as jy hom iewers oor ‘n bult sien aankom.

Dis op die Maseta, daardie stuk niemandsland sonder skaduwee, dat jy begin wonder hoe dit sal voel om hom eenvoudig plat te duik en die windklok so te verrineweer dat daar nooit weer ‘n piep uit een van die pypies kom nie.

En dan, as jy hom na 820 kilometer met windklok en al in die katedraal in Santiago de Compostella raakloop, is jy uitbundig-bly. Al kan jy dit nie verklaar nie, wéét jy net hy en sy windklok het gehelp om jou grense van menswees tjieng-tjieng-tjieng oor baie kilometers te verskuif. Jy sou nie die camino sonder hulle wou stap nie.

Die Franse roete wat van oos na wes oor die noordelike deel van Spanje loop, kan rofweg in drie gedeel kan word.

Van St. Jean Pied de Port tot by Burgos stoei jy met jou lyf. Jy raak aan die wind en weer gewoond en die wete dat jy soggens opstaan sonder om regtig seker te wees waar jy vanaand jou kop gaan neerlê.

Jou voete leer ken jou stapstewels – behoorlik. En jou rug en rugsak stoei dit uit. Bowenal sak jou standaarde wat voorkoms betref aansienlik. Al is jou klerekas nie iets om oor huis toe te skryf nie, sit jy darem nog soggens ‘n lekseltjie lipstiffie aan. Net om jouself te herinner dat jy steeds ouma Winnie se kleinkind is al neig jy meer in die rigting van cavewoman.   

Tydens hierdie eerste fase brabbel die stem in jou kop onophoudelik. Jy gesels en sing en sê al die rympies op wat jy ken. Van Halleluja-liedere tot Hompie Kedompie en die volkslied.

Fase twee is van Burgos tot by Léon. Hierdie deel is die Maseta. Hier stoei jy met jou kop. Al die kwessies wat jy nog jou hele lewe gesystap het draf soos honger wolwe op jou spoor. Jy sing en gesels nog, maar nie meer met soveel oorgawe nie. Soos die wolwe jou inhaal, raak jy stiller. Dis net jy en jou voetstappe en die ritmiese tik-tok tik-tok tik-tok van jou stapstokke na die volgende skeurvallei waar die punt van ‘n kerktoring uitsteek. Want op die Maseta mik ‘n mens nie na ‘n bergspits in die verte nie. Die dorpies doem skielik hier voor jou voete uit die niet op.

Net sodra jy die wolwe se asem in jou nek begin voel, staan jy een oggend op en jou kop is doodstil. Die stem wat soveel dae lank oor soveel kilometer onophoudelik gebrabbel het, is tjoepstil. Uitgewoed. Moeg van lawaai. Sy bly soos ‘n ou verbleikte matriekafskeidrok agter in die pad lê. Net jy en jou nuutgevonde vrede stap ligvoets (sonder blase) verder.

Fase drie is van Léon tot Santiago de Compostella. Nou voel dit of jy vlieg. Jou lyf is fiks en sterk. Jou voete voel of hulle tot aan die einde van die aarde kan stap. En jy bly in verwondering oor die wete dat die geklets in jou kop toe sowaar kon stop. Dis toe nie ‘n onwillekeurige aksie nie. Sy was toe al die tyd net ‘n outydse FM’pie waarvan jy meteens na baie jare die af-knoppie kon vind.

Die woord “wandel” kry nuwe betekenis. Jy stap nie meer nie. Jy “w-a-n-d-e-l” nou! 😊  By tye verlang jy skoon na jou kwaai standerd 2-juffrou as jy haar glypassies teen al wat ‘n afdraand is doen. 

Jou grootste uitdaging is nou ‘n ongekende halstarrigheid wat ongemerk naderkruip. Binne ‘n dag of drie gaan alles in jou vasskop om nie terug te keer na die lewe soos jy dit geken het nie. ‘n Lewe met besittings, verantwoordelikhede, fone, debietorders, vergaderings met vol agendas. Maar die ergste van alles is ‘n verbruikersgedrewe samelewing waarvan jy nooit, ooit weer deel wil wees nie.

Meteens is die berge appels in supermarkte ‘n aantyging teen die gebrek van ons medemens. Jy wil net aanhou stap met die paar besittings op jou rug en vir die res van jou lewe boemel. Een appel op ‘n slag koop en dit eers bekyk en beruik en bevoel asof dit die eerste en enigste appel op die hele aarde is voordat jy iewers plat in die veld gaan sit en dit met salige plesier sappige hap vir hap eet.