Brokkies

28 Junie 2020

Die storie van die wasgoedskildery: Ongeveer drie jaar gelede kuier ek op Worcester om ‘n praatjie by die Pionierskool se Langerug-kampus te lewer. Na die tyd gaan drink ek oudergewoonte ‘n koppie koffie by The Barn.

Om daar te kon sit – omgewe van David se glaskuns en Lorna se skilderye – het soos kerk gevoel.

‘n Bonus was dat die Kalo-woonstelle se groot populier uit my kinderjare deur die oop deur in Trappestraat gesien kon word. 

Op snikhete somersdae het ek en oupa Hennie met ons rûe teen die breë stam gesit terwyl hy vir my stories vertel en liedjies geleer het. Bo in die woonstel was ouma Tos immer aan die woel en werskaf. (Vandag herinner Covid-19 se Jik-dampe my aan haar klein raakvat-handjies in daardie woonstel se opwasbak.)

Terwyl ek vir my koffie wag, stap ek deur die gallery om my oë op al die mooi te laat rus. En soos ‘n mens nou maar is, speel ek dieselfde speletjie weer en weer.

Ek kies ‘n gunsteling. En soos ek aanstap, word die gunsteling op die lysie afgeskuif en vervang met ‘n nuwe gunsteling. Tot ek uiteindelik die gunsteling der gunstelinge ontdek en my sit by ‘n tafel reg oorkant daardie skildery kry.

Ek het heeltemal vergeet dat Sus al ‘n tyd gelede laat weet het ek moet tog uitkyk vir die “wasgoed-skildery” as ek by The Barn kom.

En daar hang die skildery.

‘n Lang, smal skildery van ‘n wasgoeddraad vol wit lakens wat tussen mosbegroeide boomstamme wapper. Hier en daar val sonkolle op heldergroen kweek.

Ek kyk vir die skildery en die skildery kyk vir my. En ek wéét Sus weet op daardie oomblik van ons.

Toe ek heelwat later die koffie betaal, kom Lorna ingestap en ek kry kans om die storie van die skildery te vra.

(Alles onder die son het ‘n storie. ‘n Mens moet net vra.)

Ja, sê sy. Haar dogter het die Camino gestap en met dié foto teruggekom. Sy skilder nie van foto’s af nie, maar hierdie foto het gevra om geskilder te word. Dit hang nou al so lank in die gallery, sy is besig om moedeloos te word.

“Dan is dit vir mý wat jy dit geskilder het,” antwoord ek. “Daardie wasgoeddraad is op ‘n werf in Galiçia. Maar ek sal eers na my finansies moet gaan kyk.”

Lorna stap na die skildery, haal dit van die muur af en sit dit op die toonbank neer.

Toe bied sy ‘n prys aan wat my laat besef alles omtrent die Camino is met onsigbare draadjies verbind. Amper soos daardie draadjies waarmee die Lilliputters vir Gulliver vasgebind het. Al verskil is die Camino se draadjies beperk ‘n mens nie. Dit gee skiet. So wyd en so ver as wat ‘n mens se versugtinge strek.

Sy draai dit self met behendige hande in bruinpapier toe en stap saam met my uit in die son.

Toe ek by die stopstraat Kaap se kant toe draai, wuif sy vir oulaas. Ek kyk in Kalo-woonstelle se rigting. Onder die groot populier sit oupa Hennie met sy rug teen die stam – pyp-in-die-hand.  

 

28 Junie 2020: Die dag waarop ek op Pinterest aangeteken het – en dit weer verlaat het.

Nie omdat daar nie die allermooiste en interessantste goed is nie. Ook nie omdat dit data vreet soos Cassimir van ouds ghoebie-ghoeboes gevreet het nie.

Nadat ek vier “borde” vol van see-, natuur-, reis-, en woordvreugdes gemaak het, het ek teen skemertyd op die skuifdeurtrap gaan sit en die wêreld bekyk.

Ek het ‘n kriewelrigheid in my gehad en ek wou weet waar dit vandaan kom. Ná soveel mooi moet ‘n mens vergenoegd wees. Nie kriewelrig nie.

Sit het ek gesit. Ek kon nie die son agter die sipresse sien ondergaan nie. Daarvoor het die wolkbanke te dig gestapel gelê. Die dag se laaste motreëntjie het begin neerstuif.

‘n Paar duiwe het kom kyk of Lenie Blou nie die grondbone uit haar hok gegooi het nie. Die miere wat hard probeer om sand onder die stoep se plaveisel weg te dra, was skoonveld. Net ‘n opening in die middel van ‘n koeëlronde hopie het gewys dat hulle een of ander tyd daar was.

Toe tref dit my. Alles wat ek die oggend op Pinterest gesien het, is perfek.

Ek wil die krakie in die muur sien. Die roeskol teen die hek. Skoene wat skeefgetrap is van vreugdemyle stap. 

Ek wil elke perfekte bonsai iewers op ‘n geheime plek in ‘n woud gaan plant waar geen snoeiskêr haar ooit weer in die hande sal kry nie en haar ingebinde voetjies onverstoord wyd en diep kan wortel skiet. Haar takke moet wild en woes in alle windrigtings kan groei. Sy moet weet hoe dit voel om regtig boom te wees. Hoe geluksalig dit is wanneer uile teen jou stam kom skuil.  

Ek wil teen elke perfekte huis se mure die versekering fluister dat sy wel eendag die eer sal beleef om weer op haar eie fondasie in te val.

Vandat ek besef waar die kriewelrigheid vandaan kom, is dit ook sommer weg.

Nou kan ek weer nie help om te wonder waarheen my vier “borde” is nie. 😊

Ek het vandag nog nie ‘n tree verder op hierdie Camino gestap nie.

Maar daardie wasgoeddraad in Galiçia, hang bokant my lessenaar.

En dis genoeg.

“Môre is nog ‘n dag”.

Maῆana, maῆana!