Brokkies

3 Augustus 2020

Stapdag 11: Santo Domingo de la Calzada na Belorado (21,7 km)

‘n Mens bly darem maar kind. Tydens gisteraand se feestelikhede kon ek nie ‘n yslike blinkpienk Bugs Bunny-ballon weerstaan nie. 

Slaaptyd het ek dit langs vriendin Greeba se string gebedskrale aan die kopstuk vasgemaak. Op die ou einde het dit heelnag oor my ysterkateltjie wag gehou. ‘n Groot, glimmende Disney-beskermengel wat stil wieg op die effense briesie deur die groot saal. 

Ons skrik later wakker as wat ons wou, maar val nogtans donker in die pad. Gister se stringe vlaggies hang nog oor die dorpsplein. Die afskortings wat vir die bulstormlope opgerig is, is verwyder. Verder is daar geen teken van lewe nie. Dit lyk asof al 6000 inwoners nog slaap.

Die sterre skyn helder. ‘n Halfmaan gee net genoeg lig om die ballon, wat nou aan my rugsak vas is, te laat gloei.   

Terwyl die son opkom stap ons vervalle, verlate dorpies tegemoet. Net hier en daar is ‘n huis wat bewoon word. Die parkies is oorgroei en die fonteine toe onder die onkruid.

By Graῆon, die laaste skaflike een, word daar gestop vir ontbyt. Ek bestel ‘n bocadillo met ‘n ham- en kaas-omelet.

Die eienaar verduidelik woes – ham óf kaas – nie albei nie. Maar verskyn tog na ‘n ruk met ‘n groot omelet en ‘n nog groter glimlag.

Terwyl ek stap, bly Santo Domingo de la Calzada se hoenderstorie my by. ‘n Spierwit lewendige hen en haan word in ‘n spesiale hok in die kerk gehou. Die hok is op ‘n klein gallery wat in dieselfde styl as die res van die kerk versier is.

Dié legende laat my net weer besef hoe nou verweef die leefwyse in die dorpies in hierdie geweste met die Camino is. Vir iemand wat net hier deurstap, is dit soms moeilik om te verstaan.   

Volgens oorlewering het ‘n 18-jarige pelgrim, Hugonell, die dorp saam met sy ouers besoek. ‘n Meisie by die herberg het op hom verlief geraak, maar Hugonell wou niks weet nie. 

Om ‘n lang storie kort te maak. Met hul vertrek versteek sy ‘n silwer beker in sy bagasie. Hugonell word in hegtenis geneem en volgens die wette van die tyd (diefstal is met die dood gestraf) gehang. Sy liggaam is as afskrikmiddel aan die galg gelos. (Baie van hierdie Middeleeuse dorpies het nog ‘n ‘strafpaal’ in die vorm van een of ander klippilaar. Dis waar kwaaddoeners destyds gestraf is. Ek stap wye draaie om hierdie pale. Dit voel asof die grond die gruwelikhede wat hier plaasgevind het na soveel eeue steeds agter ‘n mens aanroep.) 

Toe sy ouers die liggaam met hul vertrek besoek, ontdek hulle dat Hugonell nog leef. Hy vertel dat dit aan Santo Domingo te danke is.

Die ouers haas hulle na die burgemeester en vertel hom van die wonderwerk. Dié is besig om te eet en laat hulle goed verstaan Hugonell is net so min lewendig soos die twee gebraaide hoenders op sy bord.

Op daardie tydstip vlieg die hoenders op en begin kraai. Dís waar die bekende gesegde in daardie geweste vandaan kom:

Santo Domingo De La Calzada

Que Cantó La Gallina Despues De Asada.

(Santo Domingo de la Calzada – waar die haan kraai nadat dit gaargemaak is.)

Van toe af word ‘n lewendige haan en hen in die kerk gehou. Die voëls word vir hierdie doel geskenk en elke maand met twee ander omgeruil.

Die klein gallery met die hok is in 1445 gebou om die gebeurtenis te herdenk. Onder die venster is ‘n stuk hout wat glo deel was van die galg waaraan Hugonelle gehang is.

In die Katedraal-argiewe is ‘n dokument uit 1350 waarin die “Katedraal van La Calzada, met die wit hen en haan” genoem word.

 

Vanoggend sweef die ballon hoog bokant my oor die heuwels, stofpaaie en aartappellande. Teen een van die skuinstes loop ons ‘n groep sigeuners raak. 

Die kinders al spelende rondom hul ouers. Ons het hulle die afgelope paar dae langs die pad in gehawende, oorvol paneelwaens gekry. Mans en vroue met swaarkry op hul gesigte. Seisoenwerkers wat in die streek se aartappellande kom werk.

Toe die kinders die ballon sien, kom twee nuuskierig aangehardloop.  Nie lank nie of daar is ‘n hele troppie wat al kwetterend agter my aandraf. Een knaap met ‘n vuil gesiggie en ‘n woeste boskaas kom trek dapper aan my mou. Hy beduie met verlangende oë na die ballon.

Ek vra vir B. om dit los te maak. Ons bind dit om die kind se pols.

Hy loop hoogtrap-hoogtrap asof die kosbaarheid versigtig gelei moet word. ‘n Entjie verder keer sy pa ons voor om dankie te sê. B wil ‘n foto van die kind neem, maar die hele familie dring daarop aan om afgeneem te word. ‘n Paar meter verder sit ‘n pa en dogtertjie. Hy vra dat ons hulle ook sal afneem. Die meisietjie klap uitgelate hande.

Ons is al halfpad teen die volgende bult uit toe ek omkyk.

Onder in die aartappelland hardloop die nuwe ballon-eienaar baldadige draaie met die res van die kinders agterna.

Al is die ballon nie meer aan my rugsak vas nie, kan ek steeds hoor hoe dit op die briesie dobber.

En daarmee saam kom die klank van ‘n doedelsak en ‘n viool oor die aartappellande na my toe aangesweef. 

 

Dankie aan Hanlie Kotze vir haar illustrasie wat saam met my essay Feesballon in Lééf verskyn het.
Besoek gerus haar kunsblad: https://web.facebook.com/Hanlie-Kotze-Artist-1036177793080987/