Brokkies

31 Mei 2020

31 Mei 2020: Sondagaand vóór Vlak 3

As ‘n mens eenkeer die Eunate gesien het, vergeet jy dit nooit weer nie. Maak nie saak hoeveel kerkies of katedrale jy al in jou lewe gesien het nie. Dis nie die stilte of eenvoud nie. Daar is ‘n soort ongereptheid – asof die geboutjie baie lank gelede op daardie vlakte vergeet is en jy die heel eerste mens is wat weer daarop afkom. 

Hierdie gevoel stap hand-aan-hand met ‘n stil wete dat ‘n mens chosen is. Daarom dra ek hierdie stukkie stille verwondering in my binnesak soos ‘n kind wat ‘n klippie koester. Dis ook een van die eerste ‘klippies’ wat ek opdiep wanneer dinge dol raak.  

Dan tree ek uit die hede om op daardie vlakte duskant Obanos te dwaal. Ek hoor die grondpad onder my stapstewels knars. My oë soek-soek na skerfies wat die klipkappers van destyds eenkant gegooi het. En ek wonder of hulle van mý weet wat soveel eeue later vreugde in elkeen se unieke merkteken vind.

Wie was hierdie nege vakmanne, wat soos die gebruik destyds blykbaar was, van die een werksperseel na die volgende getrek het? En dikwels jare daar deurgebring het – afhangende van hoe groot die taak was. Soms het klipkappers generasies lank aan ‘n gebou gewerk.

Teen watter muur het hulle graag in die son gesit? Waar was hul blyplekke? Watter intriges het hier afgespeel? Waarheen is hulle van hier af?

Ek het die Eunate tydens albei camino’s in September gesien. Dit was omring deur stoppellande wat vir my soos die oorblyfsels van koringlande gelyk het. Maar ek het al foto’s gesien van ‘n hoogsomer-Eunate in ‘n sonneblomland wat so ver strek as wat die oog kan sien.

Ek wil daarheen terugkeer en die skouerhoogte sonneblomland hoor ritsel terwyl ek daardeur aanstap.

Vanaand, op die vooraand van grendeltyd se vlak 3, wens ek elkeen wat verwilderd is oor die week wat voorlê ‘n stukkie Eunate toe. Veral onderwysers, leerders en ouers.

Daarom wil ek graag ‘n essay plaas wat ek ná my tweede besoek geskryf het. Al maak dit chronologies nie sin nie, voel ek dit hoort so.

 

 

In die provinsie Navarre in Noord-Spanje, ‘n dag se stap vanaf Pamplona, kronkel ‘n eenvoudige grondpad by tye deur landerye geel sonneblomme na die kerkie van Santa Maria de Eunate.

Eenvoudige lyne en sagte kurwes van sandsteenmure anker hierdie heilige plek al sedert die twaalfde eeu aan die wye ooptes duskant Obanos.

Met sy ringmuur van Romeinse tweelingboë is die begrafniskapel vir gestorwe pelgrims van ouds ook ‘n innerlike baken vir die peregrino van vandag. Peregrino is die tradisionele naam vir ‘n pelgrim wat beteken “wandelaar in ‘n veld van sterre”.

En hoe dan anders met ‘n Baskiese naam wat “huis van ‘n honderd deure” beteken?

Reeds voor my vertrek om die roete deur die noorde van Spanje te stap, was ek gefassineer deur die legendes en teorieë rondom die oorsprong van die Eunate, soos dit bekend staan.

Daar word algemeen aanvaar dat dit gebou is deur die ridderorde bekend as die Knights of the Templars. Vir dié groep ridders was dit ‘n selfopgelegde taak om die pelgrims op pad na hul eindbestemming Santiago de Compostella, byna 700 km verder te beskerm.

Siekte, aanranding deur struikrowers en uitputting het sy tol geëis in die wildernis van destyds. En hier onder die wakende oog van die klein kloktoring is die gestorwenes begrawe.

Kenmerkend van kerke wat deur dié ridders gebou is, is die agthoekige grondplan oorspronklik aan die kerk van die Heilige Sepulcher in Jerusalem ontleen.

Argeoloë kon die beendere danksy kammossels wat in die grafte gevind is, as pelgrims identifiseer. Saam met dié skulp het die pelgrim van ouds se karige toerusting bestaan uit ‘n eenvoudige mantel, ‘n kalbas waarin water gedra is, en ‘n staf.

Die kammossel is die afgelope duisend jaar al die simbool van die Camino.

Ook die hedendaagse pelgrim dra die skulp op sy rugsak as ‘n soort “paspoort”. En dit is dikwels die einste kammossel wat verseker dat die Spanjaarde hul hart en huis vir jou oopmaak, water, vrugte en amandels aandra en jou moed inpraat as die pad lank raak.

Die argitektuur van die Eunate dra by tot die mistiek en talle onbeantwoorde vrae rondom die geheimsinnige kapel.

Die pilare van die boogmuur is versier met groente, monsters, musikante met reuse koppe en viole. Sommige pilare is onvoltooid gelaat. Reuse gesigte met tulbande, Moorse gelaatstrekke en baarde soos slakskulpe gedraai, word op die kraagsteen van die altaar-nis uitgebeeld.

Te oordeel na die klipkappers se merktekens het nege verskillende vakmanne die klipsnywerk aan die kapel gedoen. Dit is maar net ‘n paar van die raaisels rondom die oorspronklike bouers en towerbeelde.

Na vier harde dae, die lywe nog ongewoond aan rugsakke en ons voete nog nie gestaal teen die tweede Camino se aanslag van 25 km per dag nie, sien ek en B daarna uit om soos drie jaar gelede weer in die stille omhelsing van die Eunate se boogmure te staan.

Maar die dag eis sy tol. Die wind waai ons weer van ons voete af. Dis warm. Die steiltes en los klippe anderkant die Alto del Perdon vreet ons energievlakke.

Teen die tyd dat ons Santa Maria de Eunate se koel binneste instrompel, wéét ek dit is genoeg vir een dag. As ek myself nou ooreis, lé die droom van Santiago de Compostella aan stukke.

Die skielike stilte ná die gedreun van die wind daarbuite is oorweldigend. Ons haal ons rugsakke af en sak op die houtbankies neer.

Een van my stapstokke kantel en gly stadig af tot teen die klipvloer waar dit bly lê.

De geluid griffel deur die skemerte.

Dis net ons twee.

B vat my hand. Ons kyk op na ons geliefde boogvenstertjies hoog teen die dak. Na die sagte gefiltreerde lig wat deur die alabaster syfer.

Ek dink aan een van my ma se gunsteling-aanhalings. “Let’s do something beautiful for God.

Maar ek is net te moeg. Te moeg om selfs my sonhoed af te haal. Die rand vou onder my wang as ek teen B se skouer aanleun.

Buite beur en baklei die warm wind voort oor die vlaktes. Die langwerpige klipgebou wat baie eeue lank die woonplek van die opsigter was, se hortjies is dig getrek. Die laventelbosse langs die groot houtdeur staan vaal in die hitte.

Aan hierdie deur klop B huiwerig om navraag te doen oor moontlike slaapplek.

‘n Middeljarige vrou met kort donker hare en Indiaanse gelaatstrekke maak oop. Sy stel haarself as Mariluz voor en stap kaalvoet voor ons uit na ’n ruim kombuis met ‘n groot houttafel en vuurherd.

Ons rugsakke word in die gang staangemaak.

Ek en B knipper ons oë teen die skemerte van die groot vertrek.

Mariluz beduie dat ons moet sit.

Ons voel ongemaklik. Dit is beslis nie ‘n gastehuis of die tradisionele refugio (herberg waar pelgrims gehuisves word) nie, maar ‘n woonhuis wat eenvoudig maar keurig met hartsgoed ingerig is.

‘n Erdekraffie en twee erdebekers word op die tafel neergesit. Mariluz skink vrugtesap, maak ‘n blik koekies oop en sit dit tussen ons op die tafel neer.

Toe gaan sy self aan die kop van die tafel sit, leun met haar elmboë op die ou hout en vou haar hande tydsaam.

“Julle oornag vanaand hier,” sê sy asof dit van altyd af bestem was om so te wees.

“Dit sal vir ons ‘n eer wees om vanaand saam met julle aandete te eet en daarna vir ‘n kort gebed na die Eunate te gaan.

Dit kos niks.”

En mag sy asseblief ons voete was… 

Fluitmusiek en die sagte gevroetel van CD-houers in die gang onderbreek ons. ‘n Gryskopman met helderblou oë en ‘n sterk Nederlandse aksent kom sluit by ons aan.

Jan was direkteur van ‘n groot maatskappy in Nederland. Mariluz, sy vrou, kom uit Venezuela en was ‘n sielkundige van beroep. Nadat hulle ‘n paar jaar gelede die Camino gestap het, het hulle besluit om ‘n lewe gedryf deur winste en prestige vir een van diens te verruil.

Hulle het die vervalle opsigtershuis langs die Eunate gekoop en met liefde en toewyding tot sy eertydse eenvoud gerestoureer.

Selfs die uile en vlermuise wat die afgelope 46 jaar die enigste inwoners was, is tevrede met die veranderings.

Mariluz verskoon haarself en keer terug met ‘n erdebeker vol warm water. Dit word saam met ‘n erdeskottel op die vloer neergesit.

Sy gaan op haar knieë, drup ‘n paar druppels kruie-olie in die skottel en vou ‘n handdoek oor haar skoot oop.

Fluitklanke vul die groot kombuis. Mariluz beduie dat ek op die stoel oorkant haar moet kom sit.

Ek kyk na my voete. Stowwerig en vol riwwe soos die sokkies se riffelpatroon oor die dag se 27 km in my vel gegroef is. Die een groottoon is stukkend met ‘n rou kol waar die vel weggeskaaf is.

Aan sommige van die ander tone sit nog taai oorblyfsels van die pleisters waarmee hulle toegedraai was. ‘n Garedraadjie hang uit die blaas van ‘n kleintoontjie om vog te dreineer.

Mariluz tel die een voet op en sit dit met deernis in die skottel water. Toe was sy elke sentimeter van my twee stukkende nommer agts.

Die son daarbuite gaan staan stil. Selfs die wind hou op om aan die luike te ruk.

Ek is in die tabernakel van ouds.

Die liefde van hierdie klein donker vroutjie omvou my soos die voorhangsel van ‘n vroeër tyd.

Ek kyk na die heilige bewegings van haar hande in die water en hoor myself huil.

En ek besef dat ek vry voor haar staan. Dat sy nie oordeel of enigiets van my vra nie. Sy is hier op haar knieë voor my omdat sy die kuns ken van onvoorwaardelik gee.

In hierdie oomblikke is dit my Meester op die klipvloer voor my. Maria Magdalena in die geur van die kruie-olie rondom ons.

En vir die eerste keer verstaan ek volkome.

Met liefde was sy elke stukkende toon. Elke stukkie voos vel.

My voete word om die beurt op die handdoek oor haar skoot neergesit en sagkens droog gedruk.

Toe vou sy die handdoek oop en plaas albei haar hande oor my voete, maak haar oë toe en hou dit vir ‘n paar oomblikke so vas.

Ek besef dat sy my en my voete seën.

Eers die een en dan die ander een word weer op die koel klipvloer neergesit.

Mariluz kyk op in my gesig.

“Nou is dit jou huis,” glimlag sy.

So tussen die trane deur lag ek met B wat alles verwonderd sit en gadeslaan.

“Ek het huis toe gekom,” sê ek vir hom.

“Al met die grondpad langs na die huis van ‘n honderd deure.”

 

*Die essay het in Lééf van Augustus 2006 verskyn – enkele aanpassings is gemaak.

*Dankie aan Marriana Booyens vir die vergunning om haar illustrasies te gebruik. Besoek gerus haar webtuiste www.marrianabooyenskunshuis.co.za