Brokkies

6 April 2020

6 April 2020: Ek loop nou die camino vooruit. Eintlik het my camino begin die oomblik toe die wete in my binneste begin roer het dat ek dit graag wil stap. Al het ek nie die vaagste benul gehad van hoe, waar of wanneer nie. Ek het net geweet ek wil dit doen. Dís wanneer my camino regtig begin het. 

Van daardie oomblik af was die Camino met my besig. En het “The Way” op ‘n onbegryplike manier gesorg dat ek dit wel kon stap.    

Ek onthou die presiese oomblik. Dit was ‘n somersnamiddag in 2000. My oog het ‘n beriggie in Die Helderpos gevang. ‘n Bejaarde vrou het ‘n groot deel van die roete gestap – in flip-flops. Sy het by vriende gekuier “and stumbled upon the ancient route while recovering from a broken toe”. Toe hou sy sommer aan met stap.

Dis danksy dié berig dat my pad later met die einste Zita van Gordonsbaai gekruis het. Enig-in-haar-soort-Zita wat toe al goed in haar sewentigs was. Zita wat, nadat haar huis van soveel jare afgebrand het, net na die balke en as gestaan en kyk en verklaar het: “Nou hoef ek nie meer elke oggend al die blare van die stoep af te vee nie!”

Eers nadat ek Zita ontmoet het, kon ek verstaan dat dit regtig moontlik is om in flip-flops oor ‘n 1000-jaar oue roete te struikel en net aan te hou stap.😊

Ek kon die berig net eenvoudig nie uit my gedagtes kry nie.

Intussen sorg die Camino dat Greeba ons pad in die Franse klas kruis. Sy en haar man, Rory, (albei in hul laat sestigs) ken toe-val-LIG vir Zita. Hulle het by die Confraternity of St. James in Londen aangesluit, waarvan Zita ook lid is, en het so pas die camino gestap. Hulle moes gaan kyk waaroor Zita nie uitgepraat kan raak nie.

“Cómmme!” nooi Greeba met die gulhartigheid van ‘n vrou wat vyf kinders grootgemaak het. (Een dogter en vier seuns – almal met apostelname. Net die dogter het die naam van die befaamde vrou van ‘n Engelse koning.) “You don’t even have to buy gear! You can borrow ours!”

So land ons danksy Greeba en Rory by ‘n Confraternity-byeenkoms en ontdek dat ons deel is van ‘n familie waarvan ons net nooit geweet het nie – almal camino-betotteld. 

Destyds het min mense van die camino geweet. Nog minder waaroor dit gaan. Leesstof was nie so maklik beskikbaar nie. Die herlewing van die camino het so pas begin nadat mense eeue lank letterlik, waar hulle ook al in Europa gebly het, reg voor hul eie voordeur in die pad geval het.  

As ‘n mens na die netwerk van ou roetes kyk, lê dit soos ‘n rivierdelta oor die hele Europa – al kronkelend na Santiago de Compostella waar die oorskot van die apostel Johannes volgens oorlewering begrawe is.

Sedert daardie dag toe my camino begin het, het baie mense my gevra waarom ek dit gestap het – twee keer. 

Ek kon nog nooit met ‘n rede vorendag kom nie. Dis nie iets waarvoor ek ‘n logiese verklaring het nie. Dis soos ‘n posduif wat weet waar huis is. Jy klap jou vlerke en jy vlieg. Jy hou aan en aan deur storm en reën. Jy skuil as dit nodig is. Jy rus as jy moeg is. Maar jy hou aan, want jy weet waarheen jy op pad is.

En wanneer jy klaar gestap het en weer tuis is, dan het net jou voete opgehou om op Spaanse bodem te stap. Jou gees hou steeds aan saam met miljoene pelgrims wat eeue lank voor jou die paadjies oopgetrap het waarin jy maar net kon volg. 

Soms is ek amper seker ‘n stukkie van my het daar agtergebly. Want, terwyl ek met iets heeltemal anders besig is, is ek meteens helder terug op ‘n spesifieke plek op die camino. So helder dat ek wonder of iemand saam met wie ek ‘n paar kilometer gestap het dalk aan my dink. Of iemand dalk besig is om ‘n klipstapeltjie te pak langs een van die baie wat ek gestapel het. En of iemand dalk ‘n blaaskans vat op ‘n boomstomp waar ek eens gesit het.

Ek sal nooit weet nie.

Ek hoef ook nie te weet nie.

Al wat ek weet is dat ek nooit weer dieselfde sal wees nie.  

Dit het laasnag gereën. ‘n Sagte Palmsondag-reën. As ek deur die studeerkamervenster kyk, hang die koorsboom blink van die druppels.

Die Ester Geldenhuys-roos het drie nuwe knoppe. Sy is so dapper. Dwarsdeur verlede somer se groot droogte het sy vasberade geblom.

Dis Maandag anderkant die muur. Gewoonlik dreun die verkeer. Dit sou nou spitstyd wees, maar die tuin is so stil dat ek die spreeus wat kom bad se vlerkies kan hoor fladder.

Ek mis my ver ente stap strandlangs. Tog is ek amper seker die groot blou dam weet ek is hier. Hy het my nie vergeet nie. Snags dreun hy so hard dat ek wonder of hy nie op pad land-in is om my te kom haal nie. Hy mis my ook en kan nie wag dat ek al die skatte kom haal wat hy vir my teen die hoogwatermerk gelos het nie.

Nannie-kat van onder-in-die-pad, wat elke dag kom kuier het, is nou permanent hier tot die Grendeltyd verby is. (Grendeltyd – wat ‘n mooie woord vir ‘n vreemde ervaring wat nog voel-voel sy lê probeer kry.)

Here, ek bly praat oor koeitjies en kalfies. U alleen weet dat my gedagtes heeldag by die miljoene dagloners in ons land is wat hierdie tyd op ‘n Maandagoggend op ‘n straathoek vir werk wag. Wat so maklik ten spyte van swaarkry glimlag. U weet waar elkeen is. U ken elkeen se naam en woonplek. 

As elke vrou wat kan, ‘n brood of ‘n pak meel, of wat haar Hart ook al fluister, ekstra koop en vir ‘n werker by die supermark of in die straat of iewers gee, moet dit mos ‘n verskil maak?

Help, Here. Ons oë is op U.