Brokkies

6 Mei 2020

6 Mei 2020: Vandat ek hier bly, kom daar elke oggend klokslag 9:00 ‘n sirene op die oggendbries aan. Ek kon nog nooit uitmaak presies waar dit vandaan kom nie, maar het aanvaar dat dit ‘n fabriek is.  

Vreemd genoeg het ek ook nie agtergekom toe dit met die aanbreek van grendeltyd stil word nie. (Daarvoor was my gedagtes met te veel ander dinge besig.) 

Tot die “hoei-hoei-hoei” vanoggend 9:00 skielik weer deur die skuifdeur stap. Ek was eers verbaas en toe kleindogtertjie-bly oor die gerusstellende wete dat iets sowaar weer is soos dit vóór grendeltyd was. Al is dit iets amper onbenullig soos ‘n fabrieksirene.

Toe gooi die ou wat die knoppie druk ‘n parmantige beat soos net ‘n Kapenaar kan en die “hoei-hoei-hoei” jive die fabriek se eerste werksdag behoorlik binne. 

En ék, wat nie die mense ken nie, wat nie eers weet waar die fabriek is nie – ek jive saam, want my hart herken ‘n beat wat sê: “ons het só ver gekom, ons sal die res ook maak!”  

Ek kyk op na die geraamde teëltjie wat ek ‘n paar jaar gelede tussen vilthoede, vatlappe en ‘n macramé-kraaines in ‘n tweedehandse winkel op Montagu uitgegrawe het. 

Achter de wolken schijnt de zon” het op hierdie Woensdag meteens nuwe betekenis. 

 

 

 

Stapdag 2: Zubiri tot Trinidad de Arre (17,5 km)

Ons eet ontbyt op ‘n bankie om die hoek van die dorp se enigste bank – brood, kaas en chorizo. Toe val ons in die pad wat heeldag die rivier of sytakke daarvan volg. Sy vloei pragtig en sterk – haar naam is Arga. 

Klimop en shasta-madeliefies groei wild. Ook Margaret Roberts se soap wort. Lusern, yarrow en geel perdeblom. Reuse naakslakke so groot soos die lengte van my dagboek. So bly hulle is nie by die huis nie! 

Oral langs die pad wei beeste met klokke om die nek. ‘n Mens hoor die klokke van ver af. Dis ‘n vredige geluid. 

Ek is vandag styf, styf, styf. Tot in my armholtes toe styf. Sukkel teen die afdraandes en teen die opdraandes. Soms kan ek nie besluit wat is die ergste nie. Op of af.   

Stap deur ‘n paar klein dorpies. Net drie, vier plaashuise wat bymekaar staan. Hier en daar stap ‘n mens oor ‘n iemand se werf met lekker vet hoenders en groentetuine. Aan die klere op die wasgoeddraad kan ‘n mens aflei wie die inwoners is.   

Elke huis het ‘n arme hond aan ‘n ketting wat al in die rondte loop. 

Vandag se terrein is heelwat makliker as gister. Toe ons oor die ou klipbrug by Trinidad d’Arro stap, wag ‘n paar peregrino’s reeds voor die refugio om oop te maak: Boerseun, die Franse en die netjiese Spanjaard. Ook die vrou en haar dogter en die Amerikaner. Ons boek in, stort en gaan slaap – pootuit.

Laatmiddag is dit tyd om proviand by die klein supermark te koop. Onder andere ‘n kropslaai en twee van die mooiste pruime. Daarna is dit tyd om in die dorpskroegie nabetragting oor die afgelope twee stapdae te hou. Die Amerikaner wonder wat Johnny Walker se Spaanse naamgenoot is, B. bestel ‘n glas rooiwyn en ek bier.    

Die klein binnehof is toegegroei deur platane. Hulle beur eintlik teen die mure. In die middel is ‘n snoekertafel. ‘n Paar Spanjaarde is besig om snoeker te speel. Onder andere een met ‘n bitter klein baba in ‘n drasak teen sy bors. Elke keer as hy skiet, swaai die hele lyfie, maar baba is doodtevrede. Dis beslis nie haar eerste pot snoeker nie.   

Vanaand word aandete in die refugio se kombuis gemaak: pasta met mossels en room wat toe melk blyk te wees weens gebrekkige Spaans. Op ‘n stadium woeker vyf sjefs voor die enkele stoof. Elkeen kliphard besig met sy/haar skepping terwyl snorkers en nie-snorkers redekawel hoe regverdig dit is om tot die uithoeke van die slaapsaal of ‘n stoorkamer verban te word. 

Om te dink dat ons in die ou dae concheiros (“shellers”) genoem sou word danksy die kammossel as kenteken – soos vandag nog. 

Daar was ook die “palmers”  en die “romers” wat onderskeidelik na die Heilige graf in Jerusalem en die grafte van Petrus en Paulus in Rome gestap het.  

 

 

Dit vul my met ontsag om te dink hoeveel voete voor my hierdie roete gestap het. Biskop Theodomirus van Iria Flavia (d. 847) het aangekondig dat ‘n graf in Compostella ontdek is. Dit was volgens oorlewering die dissipel, Jakobus, s’n. Hy het ongeveer 41 n.C. aan die hand van Herodus gesterf.

Die nuus oor die ontdekking het meegebring dat pelgrims na Compostella begin stroom het.

Aldus nog ouer vertellings wat deur St. Isidore van Seville in die 7e eeu aangeteken is, het Jakobus in Spanje gepreek en is in Galiçia begrawe. Argeologiese opgrawings by die basilika het wel oorblyfsels van ‘n begraafplaas uit die Romeinse tyd opgelewer.

Oor een ding het ek reeds sekerheid in my hart gehad voordat ek by die huis weg is: Ek gaan my nie verknies of dit wel Jakobus se graf is of nie. Vir my gaan die camino oor soveel meer. 

  *Bron: Antonio Viñayo González. The Pilgrim Route to Santiago – A Practical Guide. 1999. Edilesa. Leòn.