Brokkies

6 November 2020

Stapdag 18: Iewers in my is ‘n klein dogtertjie wat glo ons twee se paaie het iewers op die Camino gekruis.

Villadangos del Páramo na Astorga (27 km)

Ek het nou al soveel yslike ooievaarneste gesien (dit lyk nes die trolneste in my gunsteling-kabouterboek), maar vandag vir die eerste keer een van Spanje se Wit Ooievaars – kompleet met die een been opgetrek langs haar nes op die kerktoring.

Ek wou nie verder stap nie. Net staan om te kyk en kyk en kyk.

Blykbaar het die bygeloof dat ooievaars babas bring ontstaan omdat hulle nege maande ná hoogsomer na hul broeiplekke terugkeer. Hierdie Middeleeuse bygeloof het meegebring dat dorpenaars die voëls aangemoedig het om op hul dakke nes te maak in die hoop dat dit vrugbaarheid en geluk sou bring.

Ongelukkig is die Wit Ooievaars wat ek in S.A. sien nie dieselfde as wat ek op die Camino gesien het nie. Hulle vlieg oor die Bosphorus, deur die Midde-Ooste en al langs Oos-Afrika af – ‘n ongelooflike 20 000 km!

Tog slaan my hart elke keer bollemakiesie as ek iewers ‘n ooievaar in ‘n koringland sien. Iewers in my is ‘n klein dogtertjie wat glo ons twee se paaie het iewers op die Camino gekruis. Dat sy my van doer bo in haar nes op ‘n kerktoring dopgehou het en net so bly is om mý te sien.


Ek stap oor die befaamde brug waar ‘n ridder ‘n maand lank ander ridders tot gevegte uitgedaag het – ‘n lang en ongewone bousel met ‘n helder stroom water wat onderdeur vloei.

In die kerk is twee vroue besig om blomme te rangskik. Ek vra ‘n rits fyn madeliefies om aan my rugsak te dra.

Ons loer by ‘n refugio in waar vrugte vir verbygaande peregrinos op die houtdeksel van ‘n put uitgepak is – appels en pruime. Dit lyk na ‘n spesiale plek.

Ons sien ook ‘n kissie met vrugte op ‘n bankie voor ‘n huis. Daarby is ‘n skriftelike uitnodiging aan verbygaande peregrino’s om hulself te help.

In sommige dorpe is die goodwill byna tasbaar. Dan is daar weer plekke met ‘n soort verlatenheid wat nie noodwendig aan die afwesigheid van mense gekoppel kan word nie. Dit stem my altyd onrustig.

Die vlieë sak plek-plek in swart wolke op ons toe. Steve skaf ‘n blou vlieëplak aan en steek dit soos ‘n swaard in sy gordel – nie ‘n slegte idee nie.

Ons besluit op ‘n agterpad en kom op ‘n oom en tannie af wat met behulp van ‘n perd ploeg. Die tannie stap voor met die leisels in die hand. Die oom moet al sy krag gebruik om die ploeg in die grond te druk.

‘n Pragtige groot, sterk boerperd. Op en af, op en af in die rooi grond om die lappie uie groter te maak. Die twee stop om ons te groet en ‘n geselsie aan te knoop. Die tannie het ‘n groot strooihoed op en ‘n dienlike oorjas oor haar ronde lyfie aan. Die oom waarsku dat daar twee “montes” (berge) voorlê.

Ek stap omkyk-omkyk. Om een of ander rede is dit moeilik om hulle agter te laat.

Aan die buitewyke van ‘n volgende dorpie is ‘n openbare washuis. ‘n Klipmuur is om die drie klipbaddens gebou.

“Twee vir was en een vir afspoel,” beduie ‘n vrou wat haar wasgoed teen ‘n skuinste inseep.

Gestremde persone is in beheer van die refugio in Astorga. ‘n Dwerg in ‘n rystoel skryf ons in. Oral in die gange woel en werskaf ander gestremdes.

Tydens die mis word ek net weer bewus van elke dag se genade – as ek net kan afleer om so te stoei voordat ek dit my eie maak.    

Ek gaan slaap in ‘n skoon bed, ná ‘n warm stort in ‘n lieflike skoon badkamer (mét toiletpapier!).

Ek het vanaand sop, macaroni en ‘n glas rooiwyn vir aandete gehad. En ek het soveel mooi gesien. Dit voel asof ek nie genoeg tale magtig is om behoorlik dankie te sê nie, terwyl ek goed weet woorde is oorbodig.

Tog fluister ek “dankie” deur die oop venster bokant my bed. 

 

Fotos: Adobe Stock Images

Wendy se Camino-dagboek kan ook op haar fb-skrywersblad gevolg word: www.facebook.com/WendyMaartensSkrywersblad