Brokkies

7 Desember 2017: Valhallapark Biblioteek is ‘n ware hartsplek

Ek was so gelukkig om ‘n hele oggend saam met Valhallapark Biblioteek se Junior Boekklub te kuier en om die lede se ouers en sommer ‘n hele paar oupas en oumas te ontmoet.

Die spesiale groep is nie net sulke groot boekwurms soos hul kroos nie, hulle maak ook beurte om mekaar se kinders en kleinkinders in hierdie bendegeteisterde gebied biblioteek toe te vergesel.

Alan Kannemeyer en sy toegewyde span sorg weer dat die biblioteek die spreekwoordelike Moeder Hen van die gemeenskap is. Almal is welkom om so lank te vertoef as wat hul hart begeer. Gevolglik is dit ‘n veilige, stimulerende hawe vir talle gestremde inwoners.

Ons het stories gelees, gesels en gesing dat die biesies bewe. Toe is die sertifikate en geskenksakkies uitgedeel waarna daar lekker saamgekuier is.

Ek is met ‘n lied in my hart huis toe, maar ‘n stukkie van my het in Valhallapark agtergebly.

Ek dink ‘n storie is besig om uit te broei …