Brokkies

8 Junie 2020

Stapdag 5: Puente la Reina tot Estella (21 km)

Hier groei ‘n perfekte dissel met die mooiste koringblomblou kleur. Ek wil graag só ‘n rok hê! Maar vir eers moet “Rokkies wil sy dra,” soos die ou liedjie sê, wag. 😊

Hier groei ook ons gewone geel sydissels wat ek en Sus altyd as kinders vir oupa Jan se wildevoëls gepluk het.

Eunate-stempel

Gisteraand se slaapplek was net anderkant Puenta la Reina se Middeleeuse brug. Dit was lekker om te sien hoe die Rio Arga van Zubiri tot ‘n magtige rivier gegroei het wat ‘n brug met ses boë benodig om iemand droogvoets daaroor te kry.

Charlemagne het ook in Puenta la Reina gebly ná een van die vele veldslae wat hy gelei het. Ek wonder altyd wat maak ‘n mens so veglustig? Word jy so gebore of word jy daartoe gedryf?

 

Saterdagaand in Estella:

Ons sit met ons aandete op die dorpsplein. Groot platane en ‘n fontein met vier koppe wat water spuit. ‘n Paar mammas met hul kinders wat rondspeel.

Het vanoggend vroeg opgestaan, koffie gedrink in die baie groot peregrino-eetkamer. Alles is splinternuut. Laat ‘n mens amper aan ‘n kampterrein dink. So anders as die skure en ou plekkies waar ons tot dusver gebly het. Ek eet die helfte van my “giant peach” en brood met kaas. Ons val in die pad. Dis bewolk en koel. Baie opdraandes.

Ons volg ‘n ou Romeinse pad met ‘n laning sipresse. Oor twee ou brûe, deur koringlande, olyfboorde en wingerd. Dis plaaswêreld met min bome en skaduwee. Behalwe vir die Romeinse pad is die grootste deel van die roete voetpaadjies.

Die Eunate se alabastervensters

Om te dink Romeinse soldate het lank voor my op hierdie einste pad gestap. (Om een of ander rede dink ek alle Romeinse soldate het rooi pluime op hul helms gedra.)

En weer string die dorpsname soos die allermooiste krale: Mañeru, Cirauqui, Lorca, Villatuerta, Estella.

In Lorca gaan ons by die kerk aan. Die vroue is besig om te vee en te poets en blomme te rangskik vir ‘n troue. Die dieppers gladioli is so mooi, ek kan nie my oë daarvan afhou nie.

In Mañeru berei almal voor vir ‘n dorpsfees. Ons loop die orkes in een van die smal straatjies raak. Almal dorpsmense met geruite blou serpies. Twee van die vroue se seuntjies draf saam met hul speelgoedtrommetjies. Vinnige, vrolike musiek.

Op pad dorp-uit, stap ons by ‘n huis verby waar iemand op die boonste vloer trekklavier speel. Ons gaan sit onder die venster en eet die orige brood terwyl ons luister. Toe ons opstaan om te loop, kom die Kanadese verby. Dis hul beurt om onder die venster te sit en luister.

Ten spyte van peregrino’s wat onophoudelik deur die Spanjaarde in Noord-Spanje se lewens stap, bly hulle vriendelik en behulpsaam. Gister kon ons deel in ‘n sak vrugte wat ‘n vrou oor ‘n heining aangegee het. Vandag, terwyl ons waterbottels by die dorpsfontein volgemaak het, het ‘n ou tannie water kom haal om vensters te was. Sy het haar spons vir twee peregrino’s gegee wat hul perde laat drink het.  

In Lorca koop ons Coke en ‘n bier by ‘n gesin wat ‘n klein onderneming uit hul huis bedryf. Ek mag die badkamer in die huis gebruik. ‘n Vaas met pienk dahlias staan in die een hoek. Die kombuis en eetvertrek is hul trots en daaruit bedien hulle ook bocadillos en tortillas.

‘n Seënwens vir die pad

Terwyl ons eet, kom sit vyf bejaardes op die klipbankies in die son en gesels. Die netjiese Spanjaard wat al die afgelope vyf dae dieselfde roete as ons stap, wou vandag weet waar ons vandaan kom. Ons is die eerste Suid-Afrikaners wat hy ontmoet – “exotica!”

Ons ontmoet ook ‘n Hollander – ene Nick wat wil weet watter taal ons praat, want hy vind dit “heel leuk”.

Buite Cirauqui is die oorblyfsels van ‘n Middeleeuse brug oor die Rio Salado (Soutrivier). Dis van hierdie plek wat Picaud in sy 12e eeuse joernaal praat as hy pelgrims waarsku om nie van die rivier se dodelike water te drink nie. Inwoners het gereed gestaan om sy perd af te slag wat daarvan gedrink het.     

 

8 Junie 2020: Al stap ‘n mens elke dag nuwe gewaarwordinge tegemoet, is ek heeltyd besig om aan gister en eergister en die dae vóór dit te herkou. Aanvanklik wonder ek of die sprinkelbesproeiing soggens afgaan, of die noordwester nie dalk reën by die venster inwaai wat vir die katkinders oopgelos is nie. En of tannie Iris regkom met die nuwe alarm.

Maar hoe verder ek stap en hoe dieper Spaans se volronde klanke hul lê in my binneste kry, hoe minder word die gedagtes aan huis. Tot ek iewers op ‘n Sondagmiddag langs ‘n grondpad met Baskiese naamborde besef “huis” is ‘n ver en vreemde begrip waaraan ek elke keer met meer sukkel vatkry. 

Dis asof ek met elke tree verder wegstap van die lewe soos ek dit ken. En van die mens wat ek was voordat ek in die pad geval het. Dit voel soms asof ek myself van ver af dophou terwyl ek stap en ‘n sagte plekkie vir die mens kry. Dié vrou wat so koppig aanhou stap na ‘n plek waarvan sy nog net gehoor het. Sonder om regtig te weet waarom en wat sy gaan doen as sy uiteindelik daar aankom.

Ek vergewe haar dat sy eerder spit as kosmaak. Dat sy kleintyd al uit die eerste ballet-, kinderkrans-, en voortrekkerklas gedros het om in ‘n lusernland te gaan speel. Ek besluit om nooit weer oor kombuis- en ooievaarstees aan haar te karring nie en haar te los as sy op die garagedak sit om nader aan die pelikane te wees wat oorvlieg vlei toe. 

Ek raak gewoond daaraan om te “Buen Camino” as ‘n mede-peregrino my pad kruis. Ek leer ken die drills in die refugio’s en die Spaanse munte lê nie meer so vreemd in my handpalm wanneer ek die paar euro’s vir slaapplek aftel nie.

Ek begin ook min of meer die variasies op die La Comida (middagete-spyskaart) verstaan. En dat poeding meestal flan, sjokolade roomys of amandeltert is. 😊

Klein dingetjies groef hulself tydsaam in my geheue. Ek het tyd om te gaan staan en kyk na ‘n goggatjie wat my pad kruis. Of te luister na ‘n voëltjie wat ek nog nooit hoor fluit het nie.

Terwyl ek stap, leer ek die grond onder my voete ken. Ek kom agter wanneer ‘n sanderige streek oorgaan in klipperige riviergrond of klei. Wanneer ‘n berg se donker grond weerbarstig onder die eerste keistene van ‘n netjiese dorpsingang bult.

Ek merk op wanneer een streek se skoenlappers of goggatjies skaars word en vir ‘n ander soort plek maak. Of ‘n sekere blommetjie ‘verdwyn’ en ‘n ander weer langs die pad kop uitsteek. 

Terwyl ek dag na dag stap, kry my voete en die aarde kans om te gesels. Vir die eerste keer leer ek om regtig met my hart te luister.

Soms hoor ek ‘n rots sug of ‘n hele woud se blare in gelid ritsel asof elke boom sy eie stuk bladmusiek bestudeer het vir daardie oomblik as ek opdaag.

Goed wat ek lankal vergeet het, dryf stadig tussen die opdrifsels van my geheue na bo en tree op die vreemdste tye na vore. Met ‘n akkuraatheid wat my met ‘n glimlag laat rondkyk – soekend na die aangesig van my Vader wat my versugtinge in Sy sak dra. Want ek wéét Hy glimlag ook.