Brokkies

8 Oktober 2020

Oi! My dae is deurmekaar. Dit bly dan nou dag 16. 😊

If everything else fails … eet ‘n hamtoebroodjie.

In Spanje hoef jy nooit ‘n stukkie ham te soek nie. Dis oral! Volledige varkboude (soos iets uit ‘n Flintstone-strokiesprent) word tuis opgekerf met ‘n apparaat soortgelyk aan ‘n yslike biltongkerwer.

Om te dink ek was drie jaar lank ‘n vegetariër voordat ek die Camino aangedurf het. Ek moet darem byvoeg dat ek geweet het my lyf gaan vleis vra. En sy hét.

Met ‘n hambroodjie agter die blad kan ek stadig maar seker begin vrede maak met die feit dat ek nie die Maseta gaan stap nie. Ten minste nie hierdie keer nie.

In Léon boek ons by ‘n refugio in en handel die gewone takies af.

Dit mag vreemd klink, maar daar ís huishoudelik take, selfs al boemel jy. Wasgoed moet elke liewe dag gewas word, want jy het net een verskoonsel. As dit dieselfde dag nog droog word, is dit ‘n wonderlike bonus. Indien nie, word die nat klere met haakspelde die volgende oggend aan jou rugsak vasgespeld om so stap-stap droog te word.

Aanvanklik is dit baie snaaks as ‘n vrou jou verbysteek met haar bra wat so swaai-swaai onderaan die rugsak in haar voetspore volg. Later knip niemand meer ‘n oog nie.

Ek het ‘n streep getrek. Dalk is dit die manier waarop ek grootgemaak is, maar daar is nie ‘n manier waarop ek my onderklere so ten toon gaan stel nie. 

Die wassery is weer ‘n ander ritueel. Elke middag maak ek en B. beurte. Een middag was hy die dag se wasgoed. Die volgende middag is dit weer my beurt.

As die wasbak ‘n prop het, tref ‘n mens dit gelukkig. Later gee jy nie meer om nie. Jy het genoeg prop gesoek en planne bedink. Teen hierdie tyd weet jy ‘n nat sokkie werk net so goed.

Hoe langer ‘n mens stap, hoe vindingryker word jy. Ook danksy mede-peregrino’s wat altyd met raad en daad bystaan.

By die huis sou ‘n mens jouself nooit met sulke dinge besig gehou het nie, maar hierdie is die Camino. Nou is daar tyd om plat op die grond met jou bondeltjie wasgoed in die son te sit en wag vir ‘n beurt by ‘n wasbak.

Ek is gelukkig om ‘n oop plek op die wasgoeddraad te kry. Daarna is dit  tyd om ‘n uiltjie te knip voordat B. en Stavros ‘n plek gaan soek wat stapstewels kan herstel.

Ek besluit om eerder by ‘n straatkafee te wag en my dagboek op datum te bring. Later eet ons by dieselfde plek paella vir aandete saam met Spaanse jongwyn.

Ná ete stap ons drie ingehaak op die maat van straatmusikante se musiek terug na die refugio.

Gaan ‘n mens ooit weer gewoond raak aan ‘n voorspelbare voorstedelike bestaan?

Teen slaaptyd is my halstarrigheid oor die Maseta net ‘n dowwe kol. Soos ‘n groot verlang.

“Die Vader weet alles,” hoor ek Ouma sê voordat ek aan die slaap raak.

 

* Wendy se Camino-dagboek kan ook op haar fb-skrywersblad gevolg word: www.facebook.com/WendyMaartensSkrywersblad