Biografie – Wendy Maartens

Biografie – Wendy Maartens

Wendy Maartens is in 1963 op Worcester gebore en het aan die Hoërskool Outeniqua op George gematrikuleer. Sy het in remediërende onderrig aan die Onderwyserskollege Oudtshoorn gespesialiseer en 22 jaar lank vir meestal graad 3’s skoolgehou. Veertien daarvan was op Stellenbosch, waar die baie spesiale kinders van La Colline, Cloetesville en Kayamandi haar deeglik in die universiteit van die lewe geskool het. Sy bedank in 2006 om voltyds te skryf.

Wendy woon in Table View, ‘n klipgooi van die Rietvlei en die groot blou dam. Sy tree as motiveringspreker op, lewer gereeld praatjies by skole en boekklubs en was van 2013 tot 2016 boekredakteur van die tydskrif Lééf. Sy het ook vanaf 2014 tot 2017 as beoordelaar van Media 24 se M.E.R.-boekprys vir jeugliteratuur opgetree. Sy skryf ook gereeld rubrieke vir die tydskrif Lééf en is as ATKV Veertjie-finalis in dié afdeling benoem.

Wendy het ‘n passie vir eg Suid-Afrikaanse legendes, volksrympies en verhale wat kinders in moeilike sosio-ekonomiese omstandighede help om hulself te bemagtig. Haar storiebundels word gereeld op RSG voorgelees en talle van haar verhale is in Maskew Miller Longman se nuutste reeks skoolhandboeke asook Lapa se Ink en ander verhale opgeneem. Haar eerste dagstukkieboek Dagstukkies vir klein hartjies is onlangs deur Cum uitgegee.

Wendy het tans 50 kinderboeke op haar kerfstok. Haar heel eerste kinderboek Lena se bottelboom was op Exclusive Books se Publisher’s Choice-lys, het eervolle vermelding by die Noma Awards for Publishing in Africa gekry en was `n ATKV-Veertjie finalis. Vier van haar kinderboeke is ook in inheemse tale vertaal.

Wendy het twee keer die Camino de Santiago pelgrimsroete gestap en probeer elke dag om die gestroopte eenvoud van hierdie lewenswyse na te streef. Sy skilder graag, graveer op klip, maak tuin, hou gereeld oggendvergadering met die voëls en span die skatte wat sy strandlangs versamel in om roerbeelde mee te maak wat weer as inspirasie vir haar skryfwerk dien.