Brokkies

Januarie 2020: Koester jou kind se komvandaan!

Rubriek: Ek & my kind

Ons is elkeen ’n storie op ons eie. Op ’n manier is nie een van ons stories volledig sonder ’n aansienlike deel van ons geliefdes s’n nie. Help jou kind van kleins af om bewus te wees van waar sy storie begin het.

• Gaan wys hom waar hy gebore is.
• Deel spesiale oomblikke van jou swangerskap. Haal soeweniers, ou foto’s en briewe uit. Ook oupa en ouma en die mense wat reeds oorgestap het s’n.
• Wys hom daarop dat hy oupa Faan se groottone en tannie Lien se kuiltjies het.
• Gaan wys hom waar jy grootgeword het. Leer hom die speletjies wat jy as kind gespeel het en speel saam – lank genoeg.
• Seën hom met eerlike, eenvoudige antwoorde op sy vrae – ook oor netelige familiekwessies.
• Begin ’n plakboek vir die kombuistafel waarin enige gesinslid ’n prentjie mag plak, wens of lekkerte mag neerskryf … en maar koffie op mag mors.
• Bo alles: verseker jou kind dat hy én sy komvandaan die kosbaarste Kersgeskenk is!

– Wendy Maartens, bekroonde kinderboekskrywer, joernalis, vertaler en motiveringspreker.